Die plaaslike gemeenskap van Moorreesburg is ná die dood van drie jong inwoners in rou gedompel.
Sarissa Frasenburg (15), Abigail Hanse (7) en Elvina Lesch (17) was van die 11 insittendes van ’n Ford Bantam-bakkie wat verlede Sondagaand in ’n noodlottige voertuigongeluk betrokke was.
Nolisa Frasenburg, Sarissa en Abigail se ma, wat ook in die ongeluk was, sê die hele familie is tans by hulle om ondersteuning te bied.
Volgens Frasenburg sal albei hul dogters vir ewig in hul harte bly.
“Mag julle siele in vrede rus. Ons is baie lief vir julle. Julle is vir altyd in ons harte,” het ’n emosionele Frasenburg, wat nie meer woorde oorgehad het om die hartseer wat hulle voel te beskryf nie, gesê.
Sarissa was ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys, terwyl Abigail ’n graad 2-leerlder by Laurie Hugo Primêr was.
Honderde vertroostende boodskappe van medelye vir die Frasenburg-gesin het op sosiale media ingestroom kort nadat die tragiese gebeure aan die lig gekom het.
Lesch (18), ’n graad 11-leerlder aan Steynville Sekondêr, was ook ’n inwoner van Moorreesburg.
Haar tannie, Stalgia Natan, het haar as lewenslustig beskryf en gesê sy sal vir haar geesdrif onthou word. “Sy het altyd vir haar familie tyd gemaak en was vir niks bang nie. Omstandighede kon haar ook nie onderkry nie. ’n Opregte glimlag was daar altyd en sy was die wêreld se vriend. Sy was ’n sprankelende sonstraal vir so baie mense. Haar vriendekring het haar beskryf as ’n vriendin wat altyd gereed was om te help.”
Personeellede het hul simpatie teenoor die familie, vriende en klasmaats van Elvina in ’n Facebook-plasing uitgespreek en haar heengaan as ’n groot verlies bestempel.
’n Gesamentlike roudiens word Donderdag vir die drie leerders in die plaaslike gemeenskapsentrum gehou.
Die tragiese voorval het volgens kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, Sondagaand 9 Julie omstreeks 23:15 op die N1-snelweg naby die Brackenfell-afrit gebeur.
Die susters se niggie en nefie van onderskeidelik 11 jaar en 16 maande is ook op die toneel deur paramedici dood verklaar weens die noodlottige aard van hul beserings.
Hul ma is een van die insittendes wat steeds in die hospitaal vir haar beserings behandel word.
Ses pasiënte is ná die ongeluk na die hospitaal geneem, lui ’n verklaring van die veiligheidsmaatskappy Titanium Securitas, wat na die toneel ontbied is.
Die ongeluk het vermoedelik gebeur toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en teen die padversperring naby die R300 gebots het.
Die familie was van Ceres na Kaapstad onderweg toe die ongeluk gebeur het.
’n Saak van strafbare manslag is volgens die polisieverklaring by die Brackenfell-polisiekantoor geregistreer.
Die presiese omstandighede oor die ongeluk word steeds ondersoek.





