MONTAGU – Die Montagu-rugbyklub het ondanks twee geelkaarte – wat beteken het hy moet minstens twintig minute met slegs veertien spelers oor die weg kom – steeds meer as genoeg woema in sy pype gehad om Ashton United kaf te draf.
Dié twee spanne het Saterdag (1 Oktober) op die King Edward-sportterrein in Montagu in ’n Grootuitdaagbeker kragmeting swaarde gekruis.
Montagu is nog stewig in die wedloop vir ’n plek in Boland se Top-12-uitspeeltoernooi, terwyl Ashton basies net sy wedstrydverpligtinge vir die jaar afhandel.
Nogtans was Ashton glad nie van plan om die wedstryd op ’n blou skinkbord aan Montagu te gee nie. Trouens, Ashton het uit die staanspoor gewys hy het King Edward toe gekom om te wen.
Die maroen truie het in die eerste sowat tien minute reeds twee keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier. Eers het Neven Lukas (flank), en kort daarna Bernard Swart, vir die besoekers gaan druk. David Wagenaar (binnesenter) het egter net Bernard se drie verdoel om sy span vroeg in die wedstryd ’n voorsprong van 12-0 te besorg.
Hoewel Ashton se entoesiasme en geesdrif Montagu heeltemal onverhoeds betrap het, het dit nie die draers van die blou en wit truie van stryk gebring nie.
Inteendeel – die tuisspan het minute later hard teruggeslaan toe sy agsteman, Nico Khana, in besit geplaas is en teen die kantlyn af genael het om ’n pragdrie nie ver van die regter-regoppaal af nie – af te rond. Montagu se skerpskutter, Ryan George (skrumskakel) se doelskop was in die kol en die telling het aangeskuif na 12-7, Ashton steeds voor.
Kort hierna het die skeidsregter, Heinnie Sophat, die woelige losvoorspeler Tain-Randall Booysen van Montagu ’n geelkaart gewys en hy moes die veld vir tien minute verlaat. Booysen se vertrek het die tuisspan skynbaar meer aangevuur, want kort nadat hy af is, het die regtervleuel, Regan Visser, ná goeie samespel gaan druk.
Dit was ná ’n goedgeplaaste lugskop deur Ryan. Cleve Malgas, heelagter en kaptein van die blou trop het opgevolg en die bal uit die lug gepluk. Hy het na binne vir Nico Khana aangegee, wat op sy beurt die bal na Regan aan sy binnekant gevoer het en dié sy ore platgetrek het doellyn toe. Ryan se doelskop was tussen die pale deur en Montagu het die voortou geneem met die telling 14-12, wat ook die rustydtelling was.
Ná omdraaityd het Montagu weer eerste punte aangeteken. Ryan, wat skitterend pale toe geskop het, het met twee agtereenvolgende strafdoele geslaag en sy span ’n voorsprong van 20-12 gegee.
En om Ashton verder te boelie, het die uitgeslape afrigter van Montagu, Brandon Baartman, sowat ’n kwartier ná rustyd vyf pare vars bene in die vorm van Giovanni Rayners, Dujon Swanepoel, Clinton Khana, Brendon Beukes en Leroy Plaatjies op die besoekers losgelaat.
Dié plaasvervangers het byna onmiddellik ’n invloed op die wedstryd gehad, want kort daarna is Reagan vir sy tweede drie in die regterhoek oor. Ryan het weer verdoel om sy span se voorsprong tot 27-12 te vergroot en die opdraande vir Ashton het al steiler geraak.
’n Paar minute later moes die tuisspan se linkervleuel, Chad Williams, egter ook vir tien minute in die koelkas deurbring omdat die wag voor sy mond gedros het en hy die skeidsregter te veel gepla het.
Ashton kon egter weer nie die een speler minder van sy teenstaander uitbuit nie. Inteendeel, ná Chad se vertrek, was dit weer soos vroeër in Tain-Randall se geval. Montagu, met ’n speler minder op die veld, het weer gaan druk.
Hierdie keer was dit die binnesenter, Doné Davids, wat agter die doellyn gaan kuier het. Ryan het vir die soveelste keer raak gekorrel en die wedstryd in die proses buite bereik van Ashton geplaas met die telling wat tot 34-12 gerek het.
Ondanks sy groot agterstand het Ashton nooit tou opgegooi nie. Hy het weliswaar hard teruggeveg en selfs daarin geslaag om ’n onverdoelde troos-drie te druk, maar die koeël was toe reeds verby die preekstoel. Die driedrukker was die besoekers se glibberige heelagter, Anrich Nelson.
Die eindtelling was 34-17 vir Montagu.
Danksy hierdie oortuigende bonuspunt-oorwinning is Montagu se kanse om die Top-12-uitspele te haal nog springlewendig.





