’n Kunstenaar van Montagu wil haar kunswerke gebruik om ander vroue te bemagtig en aan te moedig.
Mégan Pekeur (25) skilder al vandat sy kan onthou.
“Ek onthou dat ek in graad 1 al ekstra kunsklasse begin neem het. Maar toe ek op hoërskool kom, het ek ernstige aandag aan skilder begin gee. Dit was toe ek in graad 10 was, maar kuns is vir my van kleins af al ‘tweede natuur’,” verduidelik dié sprankelende biblioteekassistent.
Depressie en angs is jare nadat Mégan skool voltooi het, by haar gediagnoseer.
“Dit was so erg dat ek vir ’n ruk by ’n kliniek moes gaan bly het. Ek het bevind ’n stigma word aan hierdie diagnose geheg en ek wil dié stigma deur middel van die boodskappe wat met my skilderye gepaard gaan, breek en vroue bemoedig en aanmoedig om daardeur te werk,” deel sy met Gazette.
Sy gebruik ook haar kunswerke om geslagsgebasseerde (GBV) geweld onder die loep te neem.
“Soveel vroue in ons gemeenskappe word op die een of ander manier deur GBV geraak. Dis ’n groot kwessie in ons samelewing en almal weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie. Baie vroue sukkel om daarvan af weg te kom, want hulle wil nie altyd daaroor praat nie. Ek wil mense – op my manier – help om daaruit te kom; ek wil hulle bemagtig en die moed gee om hulle uit hierdie verskriklike situasies te verwyder.”
Dit is juis die feit dat sy sulke bemoedigende boodskappe wil stuur, wat haar skilderye inspireer. Sy erken dit is nie altyd maklik om net te gaan sit en “te verf” nie. Soms verg dit ’n bietjie geduld.
“Tussen my voltydse werk en my amper tweejarige seuntjie is dit soms moeilik om die tyd te kry om te gaan sit en skilder. Dit kan soms ’n aand vat om een skildery klaar te maak, en ander tye neem dit dae, weke of selfs maande. My seuntjie is my grootste motivering wanneer dit by my kuns en die voltooiing daarvan kom,” sê Mégan.
Sy het haar eerste uitstalling op Jeugdag vanjaar gehou.
“Dit was een van my drome bewaarheid. Aan die begin het ek meer gedink oor die geld wat ek kan maak, maar met die opening het ek weer eens besef dit gaan oor die boodskap wat ek deur my kuns wil deel. Die hele ervaring van ’n uitstalling het vir my meer as geld beteken, en natuurlik ook die blootstelling wat daarmee gepaard gegaan het.”
Haar kuns kan gesien word op haar onderskeie sosialemediablaaie op Facebook en Instagram.





