Peter-James van der Berg, ’n bouler van Montagu, stuur ’n aflewering af in die derdeligakrieketwedstryd tussen Montagu en De Doorns, wat in Montagu gespeel is. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Montagu-krieketklub het Saterdag (22 Oktober) die span van De Doorns op die King Edward-sportterrein die stryd aangesê.

Die wedstryd, wat oor 50 boulbeurte beslis is, was deel van die derde ligakompetisie van die Boland-krieketunie.

Montagu het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen.

De Doorns het 142 lopies aangeteken en is in 36 boulbeurte uitgeboul.

Vir die besoekers het H. January (39) en J. George (30) goed gevaar met die kolf.

Die tuisspan se boulers het hulle goed van hul taak gekwyt.

J.W. van Wyk het vier paaltjies vir 20 lopies in agt boulbeurte geneem, terwyl P.J. van der Berg (3/30) in agt beurte en J. Paatjies in vyf boulbeurte twee paaltjies vir 23 lopies laat kantel het.

Montagu het toe gaan kolf en die wenteiken in die 34ste boulbeurt behaal met nog een paaltjie staande.

R. Anderson het die wilgerlat goed ingelê en 40 lopies gemoker. Sy kaptein, S. Davids, was ook mooi op dreef en het 28 lopies aangeteken.

M. Robinson (3/36) in agt boulbeurte en M. Oktober (2/33) in sewe beurte het vir die besoekers die beste met die bal gevaar.

Hoewel die afrigter Adri Pekeur bly is oor sy span se oorwinning, is hy deeglik bewus van sy spelers se tekortkominge.

“Ons het nog baie werk. Die boulers het 22 wydlopers afgestuur en die veldwerkers het sewe vangkanse verbrou. Die kolwers is ook te vinnig, dus lê nog baie harde werk vir ons voor,” sê Pekeur.

Pekeur voeg verder by: “Ek wil ook Adam Jacobs, die baanopsigter, bedank oor hoe hy die baanblad en speelveld in so ’n kort tydjie voorberei in so ’n puik toestand gekry het.”

Voorts het Pekeur gesê mense wat belangstel om as skeidsregters en tellinghouers opgelei te word, kan Dinsdae en Donderdagaande by hulle op die King Edward-sportterrein aansluit.

Dié twee dae is ook die span se oefendae. Oefening duur van 16:30 tot 18:30.

Enigiemand wat navrae oor die klub het, kan die voorsitter, G. Fortuin, by 071 567 5784 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article