’n Paar van die jongspan tydens Jeugdagviering op die Ashbury Primêr sportgronde verf prentjies op papierborde. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die jeug van Montagu – meestal jonger skoolgaande kinders – het Jeugdag Vrydag 16 Junie op die Ashbury Primêre Skool se sportterrein met verskeie aktiwiteite gevier.

Rescue Among Many (RAM), ’n liefdadigheidsorganisasie sonder winsbejag met die formidabele Carol Bruton as die voorsitter, het die dag se verrigtinge in samewerking met verskeie plaaslike en ander sakeondernemings moontlik gemaak.

Die kinders het ywerig aan die bedrywighede op die skool se rugbyveld deelgeneem en ook die dansgroep, jeugkoor asook die brigade wat opgetree het, geesdriftig ondersteun en geniet.

Nie eens die ysige wind wat by tye gedreig het om van die gazebo’s om te waai, kon entoesiastiese jong klomp se geesdrif op dié koue wintersdag demp nie.

Die verrigtinge is op ’n gepaste wyse met ’n gebed deur Brenda Strydom, ’n onderwyser by Ashbury Primêr, geopen.

Daarna het die aksie in alle erns ’n aanvang geneem.

Minnelie Minnaar, kreatiewe leefstyl- en welstand-afrigter, en haar assistent, Talia, het speelterapie met groepies kinders gedoen. Elke deelnemer het ’n stel oorfone ontvang, waardeur Minnelie of Talia met hulle (die deelnemers) kommunikeer het.

Hulle moes dan op Minnaar-hulle se instruksies, wat via die oorfone oorgedra is, verskillende liggaamsbewegings en ander aksies uitvoer.

Van die kinders het agterna gesê hulle het die speelterapie interessant gevind en dit baie geniet.

Die RAD Legends-brigade met hul pragtige rooi en wit uitrustings, onder leiding van pastoor Jannie Moses en sy eggenote, Selistien, het die jongspan met hul vernuftige tromspel vermaak.

Verder het werknemers van die immer gewilde vakansiebestemming, wat bekend is vir sy natuurlike warmwaterbronne, party van die jong klomp se gesigte geverf.

’n Ander groepie is weer touwys gemaak oor hoe om prentjies op papierborde te verf.

Later die middag het die dansgroep Dancescape SA en die Zolani Youth Choir die teenwoordiges met hul energie-belaaide danspassies en pragtige sang vergas.

Ná die dag se opwinding is die hongerpyne met vrugte, toebroodjies, sop, skyfies en biryani stilgemaak.

Bruton het agterna haar opregte dank betuig.

“Ek wil graag almal wat bygedra het om hierdie dag moontlik te maak, uit die diepte van my hart bedank.

“Al die sakeondernemings, borge, vrywilligers sowel as die hoof van Ashbury Primêr, Anelma Johnson, haar hulpvaardige personeel en die beheerraad wat hul perseel beskikbaar gestel het – ’n hartlike dank aan julle almal,” het ’n baie dankbare Bruton ter afsluiting gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article