Montagu RVK het verlede Saterdag voor ’n rekordskare van meer as 5 000 vir die top-12 op Hammiespark gekwalifiseer.
Die wedstryd, wat die span moes wen om deur te dring, het alles bevat waarna fynproewers uitgesien het. Die stadion was teen 14:30 reeds gepak soos wat ondersteuners van heinde en verre vir die stryd opgeruk het, met die tuisspan Young Hamiltons wie se toeskouers self in hul duisende opgedaag het om hul span te ondersteun.
Dat die klub aan die einde van die wedstryd ’n sug van verligting geslaak het, sê baie van die riller met die eindtelling 21-20 vir Montagu.
Hammies het in die laaste minute alles in die stryd gewerp, maar hardnekkige verdediging en hanteerfoute het die tuisspan verhoed om deur te breek. Montagu het vroeg sy voorneme dat hy desperaat was om dié een deur te haak, duidelik gemaak, en Hammies moes in die eerste 20 minute omtrent walgooi. ’n Ambrose Steyn-strafskop het Hammies se rekening met ’n suksesvolle strafskop ná onkantspel geopen.
Montagu is oomblikke hierna oor toe sy agsteman, Brendon Beukes, ná ’n rolmaalbeweging in die hoekie gaan druk het. Montagu het hierna die voorsprong gerek toe sy skrumskakel, Ryan George, met ’n strafskop geslaag het en was teen rustyd ná nog twee George-strafskoppe 14-08 voor. Sy heelagter, Cleve Malgas, het kort ná rustyd twee verdedigers geklop en ’n drie gedruk, waarna George dit verdoel het (21-08).
Hammies het verwoed begin aanval en sy heelagter, Luciano Truter, het ’n drie gedruk. Die doelskop was egter mis.
Met die telling 21-13 het Hammies steeds nie bes gegee nie en hy is met 14 minute oor beloon toe die plaasvervanger-vleuel Reyaaz Pietersen ’n goed uitgewerkte beweging ná die perfekte aangee van Truter onder die pale afgerond en Truter vinnig verdoel het om die telling op 21-20 te staan te bring. Die laaste agt minute was erg senutergend met beide spanne wat nie wou bes gee nie.
Hammies het verwoed aangeval en byna gedruk nadat Claudio Matolla (vleuel) 40 m genael het, maar toe hy voorgekeer word en die bal aangee, hy het dit ongelukkig verloor. Dit het Montagu ’n sug van verligting laat slaak. Die eindfluitjie het kort hierna geblaas nadat Montagu ’n strafskop gekry het, en sy perke het geen vreugde geken toe hy bal tussen sy honderde ondersteuners inskop om ’n geskiedkundige oomblik te verseël.. Hammies B het ’n wipplank-stryd 16-15 gewen, terwyl die C-span sy ligaglorie 45-3 gevier het en as C-span-ligakampioen in die Breelangebergstreek gekroon is.
Hammies bedank sy lojale ondersteuners, afrigterskorps, spelers, bestuurslede en oudspelers vir ’n puik seisoen waar hy vierde geëindig het.





