Mario Pietersen, die aanvangskolwer van Montagu, stuur ’n bal grens toe in dié span se krieketwedstryd teen Touwsrivier. Pietersen (46) het net vier lopies gekort om ’n 50-tal aan te teken toe hy sy paaltjie verloor het.

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die Montagu-krieketklub het Saterdag (10 Desember) ’n pragoorwinning behaal toe hy die besoekende Touwsrivier-krieketklub met 119 lopies verslaan het.

Dié wedstryd is op die King Edward-sportterrein in Montagu beslis.

Montagu het die loot gewen en besluit om die beste van die blad te maak en eerste te kolf.

Die aanvangskolwers, Mario Pietersen en Jaco Joubert, het ’n goeie grondslag van 90 lopies vir hul span gelê.

Pietersen (46) het net vier lopies gekort om sy 50-tal aan te teken toe hy sy paaltjie verloor, terwyl Joubert ’n stewige 31 lopies bygedra het.

John Westley van Wyk het die wingerdlat lekker rondgeswaai toe hy voor die penne was en 53 lopies gemoker, wat drie sesse en vier viere ingesluit het.

Aan die einde van sy skof het Montagu in sy toegelate 50 boulbeurte ’n stewige 212 lopies opgestapel.

Touwsrivier se boulers het ’n moeilike dag beleef en sy kolwers het nie veel beter gevaar nie.

Die besoekers se beste bouler was Hubert Rooi, wat drie paaltjies vir 37 lopies platgetrek het.

Montagu se boulers het egter ’n goeie oes aan paaltjies gehad. Hul aflewerings was bykans onspeelbaar en Touwsrivier kon uiteindelik slegs 93 lopies aanteken.

Jurrane Pekeur het twee paaltjies vir 13 in sy vier boulbeurte geneem.

Salahuddin Davids (twee beurte), Ryan Anderson (agt beurte) en Jaco Joubert (vyf beurte) het onderskeidelik twee paaltjies elk ingeoes, terwyl Juandre Plaatjies (ook vyf beurte) een paaltjie laat kantel het.

Saterdag (17 Desember) bied Montagu ’n ses-aan-’n-kant- kriekettoernooi op King Edward aan, waar die wenner met ’n prysgeld van R1 500 kan wegstap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article