Kinders wat hulle vir bendelede uitgee en amok in die strate van Darling maak, is ’n groeiende probleem vir die plaaslike polisie.
Sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, sê sogenaamde bende-groepies, wat hoofsaaklik uit minderjarige kinders bestaan, kom al meer voor.
“Kinders is meer prominent in hierdie groepies en baklei met pangas. Hulle word gewaarsku om die aktiwiteite te stop,” sê Filander.
Hy sê omdat baie se ouers bedags werk, het hierdie kinders in die vakansietyd gaan kwaad stook in die strate en mekaar met pangas rondgejaag. Die kinders is tussen 10 en 18 jaar oud.
Volgens Filander het twee 18-jariges verlede week ’n man se voertuig in Port Jacksonsingel beskadig.
“Die twee 18-jariges is voor die hof gebring, maar weer vrygelaat,” sê Filander.
Port Jacksonsingel en Disastraat word as die brandpunt vir dié bende-groepies gesien.
Filander sê die bende-groepies neem die plek oor en probeer inwoners wat verbyloop, die skrik op die lyf jaag. “Die kinders is jonk en hul ouers het nie beheer oor hul gedrag nie. Hulle staan op straathoeke en intimideer en beroof inwoners wat verby hulle stap. Dis ’n groot probleem.”
Filander sê in die meeste gevalle wanneer die polisie op die toneel verskyn, spat hulle uitmekaar en gaan soek wegkruipplek.



