Inwoners van Yzerfontein is in die middernagtelike ure in hul huis aangeval kort nadat drie mans by die huis in die hoofstraat van Yzerfontein ingebreek het.
Die huiseienaar het volgens die polisiewoordvoerder sers. Johnatan Filander van die Darling-polisie weens ’n geraas uit die sitkamer wakker geword. Die man het sy vrou wakker gemaak en na die sitkamer beweeg.
Hy is deur drie onbekende mans aangeval toe hy probeer het om die ligte van die sitkamer aan te skakel.
Sy vrou het daarin geslaag om te ontsnap.
Die man het terugbaklei totdat hulle hom met ’n onbekende voorwerp teen die kop geslaan het. Die rowers is by ’n deur in een van die slaapkamers uit en het te voet gevlug, terwyl die slagoffer ook eindelik daarin geslaag het om te ontsnap waar hy by sy vrou aangesluit het.
Die egpaar het tot in die straat gehardloop en om hulp geroep.
Twee van die inbrekers het balaklawas oor die kop gehad, terwyl een se gesig sigbaar was.
Die inwoner het ’n kopbesering opgedoen, terwyl sy vrou ongedeerd, dog getraumatiseerd, was.
Geen vuurwapens was by die rooftog betrokke nie; net ’n skroewedraaier.
Die polisie het later vasgestel die inbrekers het deur ’n venster in die sitkamer toegang verkry.
’n iPhone-selfoon ter waarde van R25 000 en ’n Amarok-bakkie se sleutels ter waarde van R5 000 is deur die verdagtes gebuit.
Die drie verdagtes is op ’n sekuriteitsvideo vasgevang, hoewel beurtkrag kort daarna om 02:00 ingeskop het.


