Micah Africa (14) by die Pilditch-stadion in Tshwane.


Die 14-jarige Micah Africa van Malmesbury het onlangs geskiedenis gemaak deur twee nuwe Suid-Afrikaanse Beste-tye te verbeter wat vir byna drie dekades staande gebly het.

Micah het die afgelope vakansie aan die Atletiek Suid-Afrika o.16-, o.18-, o.20- en o.23-kampioenskap in Pretoria deelgeneem waar hy sy stempel behoorlik afgedruk het.

Volgens Micah, oudleerder van die Laerskool Swartland, het hy van die begin af geweet dat hy nie met ’n bronsmedalje tevrede gaan wees nie.

Daar wen hy toe dubbele goud, verpletter twee SA Beste-tye in albei sy items en verbeter sy persoonlike beste tyd in die 100 m-wedloop by die Pilditch-stadion waar die byeenkoms plaasgevind het.

Soos verlede week berig (“Micah breek twee SA rekords”), het hy op die eerste dag van die kampioenskap op 21 Maart aan die 100 m-naelloop deelgeneem waar hy Retshiditswe Mlenga se SA Beste-tyd van 10.88 sek. in 1999 verbeter het. Micah het daarin geslaag om Mlenga se tyd van 25 jaar gelede in die halfeindronde met vyf honderdstes van ’n sekonde tot 10.83 sek. te verbeter en boonop sy eie rekord in die eindronde met ’n verdere 0.15 sek. te verbeter. Die nuwe Suid-Afrikaanse Beste-tyd vir die 100 m-item vir o.16 seuns is 10.73 sek.

Saterdag 23 Maart maak hy toe weer geskiedenis deur LJ van Zyl se rekordtyd (SA Bestes) van 36.83 sek. in 2000 te verbeter deur die 300 m-hekkieswedloop vir seuns o.16 in ’n tyd van 36.76 sek. te hardloop.

Volgens Micah se ouers, Chantall en Granville Africa, het hy hulle en sy eie verwagtinge oortref.

“Ons is baie trots op hom,” sê sy ma.

Micah, ’n leerder by die Hoër Jongenskool Paarl (HJS), sê op sy beurt dat hy dit glad nie verwag het toe hy die eindstreep in die 100 m-wedloop oorgesteek het nie.

“Ek het geweet ek het my persoonlike beste tyd gehardloop, maar toe die kommentator sê dit was ’n rekord, wou ek huil,” sê hy.

Met die 300 m-hekkies-wedloop was skok aan die orde van die dag.

“Ek kon dit nie glo nie,” sê ’n steeds geskokte Micah.

Volgens Chantall is Micah steeds verbaas wanneer jonger kinders vir hom sê dat hulle na videos van hom kyk om hul eie tegniek te verbeter.

“Ons dank God vir sy talente, maar is ook dankbaar vir ’n kind wat wil,” vertel sy.

Beide sy ouers en oupas was kranige atlete op skoolvlak.

Micah, wat Boland Atletiek (BOLA) verteenwoordig, word deur Boland se Shawn-Crispin September (naellope) en André van der Burgh (hekkies) afgerig.

September het geweet hy gaan goed doen, maar het nie die resultate verwag nie. “Persoonlike beste tye is vir my as afrigter baie belangrik, so om te sien dat hy so goed doen, was ongelooflik.”

Volgens September gaan Micah nog ver kom met sy tipe persoonlikheid. “Met die regte ingesteldheid kan hy enigiets bereik.”

Van der Burgh sê almal het na Micah se Gautengse teenstander, ’n baie sterk 300 m-hekkiesatleet, gekyk, maar Micah se spoed het hom op die einde na ’n wen geneem. Volgens sy afrigter het Micah uitsonderlike talent, maar werk ook hard en is gedissiplineerd.

“Hy is coachable, met ’n aangename persoonlikheid en ’n kind wat mooi saamwerk met sy voete plat op die aarde.”

Mike Fraser van BOLA meen Micah is ’n kragtige atleet met baie potensiaal om nog groter hoogtes in atletiek te bereik. “Hy kort net die regte leiding en ondersteuning deur die verskillende betrokke rolspelers wat sy beste belange op die hart moet dra. Sy talent en potensiaal moet gevoed word met liefde, respek en baie sorg. Boland Atletiek en Boland Skole sal beslis daardie rol in sy lewe vervul saam met sy ouers en afrigters.”

Yvette Smith, sy hekkie-afrigter op laerskool, beskryf Micah as ’n toegewyde atleet. “Hy het gefokus wanneer hy moes en was nooit lui om te leer nie.”

Sy onthou hom as ’n goed gemanierde kind met baie goeie waardes. Volgens haar tel daardie eienskappe vandag beslis in sy guns as ’n atleet op nasionale vlak waar selfdissipline baie belangrik is. “My hart het gebars van trots. Ek glo ons sal hom nog eendag by die Olimpiese Spele sien.”

Die SA hoërskool-kampioenskap vind eersdaags, 4 April, by die Dal Josafat-stadion in die Paarl plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article