Plaaslike inwoners van Hooikraal in Moorreesburg is keelvol vir voortslepende inbrake en ongevraagde aanvalle wat na bewering al ’n geruime tyd in hul woonbuurt plaasvind.
’n Man (30) is volgens ooggetuies die afgelope Saterdagaand op pad na sy huis deur ’n groep jeugdiges aangeval, beroof en vir dood agtergelaat.
Volgens die slagoffer se ma, ook ’n inwoner van die woonbuurt, is dié aanval een van vele wat die afgelope tyd plaasgevind het.
Haar seun is met ’n baksteen teen die kop geslaan, van sy selfoon en beursie beroof en vir dood agtergelaat. As dit nie vir inwoners was wat hom te hulp gesnel het nadat hulle sy noodkrete gehoor het nie, was hy dalk dood. Die aanvallers het te voet gevlug en is steeds soek.
Die slagoffer is op die toneel gestabiliseer en kort daarna per ambulans na Swartland-hospitaal geneem, waar hy dringende behandeling ontvang het.
Volgens inwoners ruk die situasie handuit namate keer op keer by huise ingebreek en inwoners beroof en aangeval word.
Die inwoners is oortuig hulle weet wie die skuldiges is, maar niks word aan die situasie gedoen nie, omdat die vermeende misdadigers glo minderjariges is.
Volgens die slagoffer se ma sou ’n klagte van poging tot moord Maandagmiddag by die plaaslike polisiestasie aangemeld word.
AO Nicolette Visagie, ’n woordvoerder vir die Moorreesburg-polisie, kon dit nog nie teen druktyd Maandag bevestig of die voorval wel aangemeld en ’n klagte van poging tot moord ondersoek word nie, maar het gesê die bewerings word wel ondersoek.


