’n Verdagte is verlede week weens die onwettige besit van ’n vuurwapen in hegtenis geneem.

Lede van die Malmesbury-polisie is verlede Woensdagaand kort voor middernag na ’n toneel op ’n plaas buite die dorp ontbied. Met die polisie se aankoms, is die persoon wat die klagte ingedien het, ondervra. Volgens die polisie het die verdagte glo gedreig om die aanklaer met ’n haelgeweer te skiet.

Die polisie het die aangeklaagde se voertuig opgespoor en deursoek. Die verdagte is toe in die besit van die betrokke vuurwapen, asook 11 haelpatrone, betrap.

Die 45-jarige verdagte is op aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.

Die verdagte het Vrydag in Malmesbury se landdroshof verskyn.

Kol. Benjamin Gqabi, die Malmesbury-polisie se stasiebevelvoerder, het die plaaslike gemeenskap en alle vennote wat saam met die Suid-Afrikaanse polisiediens werk, vir hul toewyding en pogings om die polisie in hul stryd teen misdaad te ondersteun, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article