MONTAGU – Jisreel de Koker (23), is Woensdag 15 Februarie in die Montagu streekshof op een klag van moord en twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer tot altesaam 16 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Dit volg ná twee afsonderlike voorvalle wat in 2019 en 2020 plaasgevind het.
John-Ross Swanepoel (slagoffer) het op 2 Oktober 2019 gesien hoe De Koker ’n meisie in Wilhelm Thyslaan rondjaag en met hom (De Koker) daaroor gepraat.
De Koker het egter ’n mes uitgepluk en Swanepoel in die gesig gesteek. Swanepoel is ernstig beseer en in ’n Kaapstadse hospitaal opgeneem, waarna hy later weens die meswond beswyk het.
Die ander voorval waarby De Koker betrokke was, het op 15 Februarie 2020 plaasgevind.
Op daardie betrokke dag het hy sy vriendin, Lesley-Ann Jansen, en dié se suster, Olivia, met ’n mes in hul woning aangeval. Volgens inligting was De Koker woedend omdat Lesley-Ann volgens hom in ’n verhouding met iemand anders betrokke was.
Hy het haar toe met ’n mes begin steek. Olivia het probeer keer en is sy gesteek. De Koker het albei susters verskeie kere in die gesig gesteek.
Die beskuldigde was op borgtog in die Swanepoel-saak toe hy die twee Jansen-susters aangerand het.
De Koker het in Julie 2022 op al die aanklagte teen hom skuld bekend.
Tydens sy vonnisverrigtinge het sy regsverteenwoordiger, A. Adams, die hof versoek om af te wyk van die wetlik voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar.
Adams het onder andere aangevoer sy kliënt is jonk en het ’n kind. Hy is ’n eerste oortreder en het skuldig gepleit. Dit kan as ’n teken van berou gesien word, volgens Adams.
Die staatsaanklaer, Heinrich Koert, het tydens sy betoog gesê moord is ’n ernstige aanklag. Hy het voorts gesê die beskuldigde kan nie sy humeur beteuel nie.
Wat die aanrandings op die twee susters betref, het Koert gesê hulle is in die veiligheid van hul woning aangerand. Die aanranding op die twee vroue is ’n geslagsgebaseerde misdaad.
Ter afsluiting het Koert gevra dat die hof bogenoemde faktore as verswarend beskou en nie afwyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.
Die beskuldigde is op die moordklag tot 10 jaar gevangenisstraf toegedien.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Met betrekking tot die aanklagte van aanranding het die hof dit vir vonnisdoeleindes saamgevoeg en die beskuldigde tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.




