’n Man van Robertson is dood toe hy onder die wiele van ’n vragmotor in die dorp beland het, en dit voor die oë van talle Robertson-inwoners.

Lt.kol. Russel Koeries, ’n woordvoerder van die Robertson-polisie, het bevestig dat ’n 25-jarige man, Nkosikhe Dcebe (25), Woensdag (19 April) om 14:30 in Voortrekkerstraat in Robertson onder die wiele van ’n vragmotor beland het. Hy het bevestig dat Dcebe op die toneel dood verklaar is.

Dit is steeds onseker presies wat tot die voorval gelei het.

Wat Koeries wel kon sê, is dat die bestuurder van die vragmotor glad nie van die man bewus was nie. “Hy het by die stopstraat gestop en toe weggery.”

Die Robertson-polisie het die bestuurder intussen in kennis gestel wat gebeur het en ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen om vas te stel presies hóé hierdie voorval plaasgevind het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article