Nadat Mamre ’n week gelede deur St. Georges in die Wesbank Malmesbury Super Spar-7’s met 12-7 getroef is, het hulle seker gemaak dat hulle nie weer oor die laaste hekkie in die Darling-7’s struikel nie.
In ’n opwindende eindronde van die oudste klub-7’s-toernooi op die Weskus en in die Wes-Kaap, die Darling 7’s, het Mamre sy buurman, Young Hearts van Pella (2022 naaswenners) Saterdag (4 Februarie) in die eindstryd ore aangesit. Beide spanne het vir die eindstryd gekwalifiseer toe hulle onderskeidelik met All Saints (14-10) en St. Helenabaai (19-14) afgereken het.
Dié twee spanne het mekaar van meet af aan geen ruimte gelaat nie. Goeie spel deur Mamre se voor- en agterspelers het sy kaptein, Edwill Okkers, hul eerste sewe punte op die telbord laat plaas vir ’n voorsprong van 7-0 net voor rustyd. Young Hearts het egter ná die draaislag teruggeslaan en die telling gelyk gemaak toe hulle ook ’n drie gedruk het.
Die spoedvraat Bradwin Prins het weer eens beklemtoon dat hy in enige 7’s-span kan instap en presteer. Hy het sy teenstanders in die lug laat gryp telkens wanneer hy op loop gegaan het.
Hoewel die span in die geheel goeie spel gelewer het, het die vonds van die toernooi, Waldick Gericke, ongetwyfeld uitgestaan op die dag en hy is as speler van die toernooi aangewys.
Young Hearts is die tweede jaar in Darling gestuit toe Bradwin Prins ’n drie in die doodsnikke van die eindstryd in die hoek gaan druk het vir ’n wentelling van 12-7, wat Mamre as die kampioen gekroon het.
In die Bowl-finaal het Never Despairs B die gasheerspan Darling B met 31-14 verniel en as Bowl-kampioen weggestap. Spairs het die skare met vyf pragtige drieë getrakteer, terwyl Darling net twee drieë kon aanteken.
Hands & Heart, die 2022- Darling-7’s-kampioen, het benoude oomblikke in die laaste twee minute van die wedstryd gehad toe hy nog ’n Swartland-span, Moorreesburg(Samoa), met 19-17 geklop het.
Die opwindende Gericke, wat as speler van die toernooi gekroon is, is ook met R500 beloon vir sy skitterende spel op die dag.





