Kyk ’n mens terug na Malmesbury se wel en weë oor die afgelope jaar, vind ons genoeg lesse om ons vir 2023 te bemoedig.
Moet nooit moed verloor nie
Net toe almal oortuig raak die Malmesbury-museum het finaal in die vergetelheid verdwyn, sien ons ’n welkome herrysenis. ’n Splinternuwe briesie waai deesdae tussen die ou dae se skatte en prettige byeenkomste belig Malmesbury se ou-ou stories. Toere na historiese huise, werksessies en braaidagvierings laat hierdie 111-jarige dame van nuuts af blom. Besoek gerus die museum binne die ou Sinagoge-gebou, waarvan die hoeksteen op 11 November 1911 gelê is.
Van werksessies gepraat
Die vroue wat Malmesbury Makers tydens die 2020-inperking gestig het, verdien erkenning. Hul werksessies en geskenkpakkette is vars en bemagtigend en gee groter blootstelling aan man en muis (ekskuus, aan entrepreneurs en hul vriende).
Die waarde van herwinning
Sinethemba het ons geleer hoe duisende weggooidoppies vir ’n rolstoel ingeruil kan word. Hierdie entoesiastiese organisasie het binne 65 dae 450 kg plastiekdoppies ingesamel – ’n projek wat wys hoe ons streek se mense kan saamstaan. Drie Samaritane het ook elk ’n rolstoel geskenk, dus is vier gestremde mense se lewensgehalte handomkeer verbeter.
Sinethemba sit hierdie projek in 2023 voort.
Vasbyters
’n Medalje aan elke sakeman, entrepreneur en landbouer wat vanjaar deurgesien het met vasbyt, hardnekkige geloof en harde werk. Ek wil landbouers uitsonder, want terwyl ons hul produkte (wyn, koring, olywe, melk en vleis) geniet, besef ons nie aldag hoe uitdagings soos verhoogde brandstof- en kunsmispryse, politieke onsekerheid en droogte aan hul siele en menswees vat nie.
Wanneer ons vandeesmaand verby nuut geplante wingerde ry, raak dit monumente van moed, dapperheid en ’n vasberade gees. Bekyk gerus weer die staffie-Dunlop-advertensie op You Tube: Aanvanklik raak die bonkige staffie in ’n resies teen windhonde agter, maar wanneer windhond-se-kind voor uitdagings onseker raak en in die rondte tol, beur die staffie doelgerig regdeur hindernisse en eindig as wenner. Geluk en sterkte aan elke staffie-vasbyter-boer in ons midde; julle inspireer my.
Malmesbury-poskantoor
Teen hierdie tyd weet almal hoe het sakemanne, landbouers en ’n reuseskenking van die Mount Royal-trustfonds hierdie 1930-gebou se restourasieprojek moontlik gemaak. Die proses het begin met klein, onseker treetjies, totdat goeie gesindhede en saamstaan ’n feitlik onmoontlike projek ’n werklikheid gemaak het. Dit laat ons almal opnuut glo in die goedheid van die mensdom.
Was daar net prestasies?
Ongelukkig is daar altyd die keersy van teenspoed, oordeelsfoute, teleurstellings en lesse op klipharde maniere geleer. Komplimente aan elkeen wat foute kon omskep in groeigeleenthede en toegesien het dat hulle nooit stagneer nie.
Wat sal ons vir onderwysers sê?
Rús, want om presteerders saam met avontuurlikes, kansvatters en luies ten beste te laat ontwikkel, bly ’n wonderwerk. In ’n gesinnetjie uit my kleintyd het drie sibbe se rapporte juis gereeld ’n druipery aangedui, met Juffrou se aanmoediging daarby: “Probeer volgende jaar weer.” Kleinboet het skynbaar nie so ’n uitnodiging verdien nie, vandaar die bondige opmerking in sy rapport: “Kleinboet druip. Geseënde Kersfees.”





