Kol. Luthando Nosilela Foto: Charlotte Lesch


Die Malmesbury-polisie het pas sy nuwe stasiebevelvoerder verwelkom.

Kol. Luthando Nosilela het vandeesmaand by die span van Malmesbury-polisiekantoor aangesluit nadat hy ná agt jaar as stasiebevelvoerder in Hermanus na Malmesbury oorgeplaas is. Nosilela het by navraag gesê die enigste rede wat aan hom verskaf is, was dat dit glo “in die belang van die organisasie is”, glimlag hy.

Kol. Nosilela is in die Oos-Kaap gebore en getoë.

Hy het sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens op 1 Maart 1994 begin.

Nosilela vertel hy het reeds van ’n baie jong ouderdom af geweet hy wil ’n polisiebeampte word en het dus sy passie om by die SAPD aan te sluit, nagestreef. Hy het toe al gesien hoe hy eendag in die toekoms ’n bydrae tot ’n beter Suid-Afrika gaan lewer. “Ek was baie bevoorreg om dit te kon word waaroor ek nog altyd gedroom het,” voeg hy dankbaar by.

Nosilela spog met ’n graad in die polisie wat hy aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf het. “Ek is ’n polisiebeampte by professie,” skerts hy.

Hy beskou boonop ook sy intreeslag tot die polisiediens met die aanbreek van demokrasie as interessante tye.

Nosilela kyk nie vir een oomblik terug nie. Hy het as jong polisiebeampte by verskeie stasies reg deur die Oos-Kaap gewerk totdat hy in 2014 tot stasiebevelvoerder in Laingsburg bevorder is. Daar was hy vir twee jaar vanaf 2014 tot 2016.

Hy is op 1 Augustus 2016 tot kolonel bevorder en na Hermanus verplaas, waar hy tot 31 Desember 2023 as stasiebevelvoerder aan die stuur van sake was. Hoewel hy die koeler seelug gaan mis, is hy opgewonde oor die nuwe uitdagings wat Malmesbury bied.

Sy visie vir Malmesbury is die daarstelling van vennootskappe. “Ek glo die polisie gaan oor vennootskappe. Die polisie kan nie alleen die oorlog teen misdaad wen nie.” Hy gaan seker maak dat elke gemeenskapstruktuur ingetrek word sodat samewerking bewerkstellig word. “Ek gaan nou saamwerk met elke buurtwag wat reeds gevestig is en gaan seker maak dat dit in gebiede wat nie oor ’n buurtwag beskik nie, gevestig word.”

Hy gebruik Hermanus as voorbeeld en vertel hoe daar voorheen maandeliks sowat 120 inbrake aangemeld is. “Daardie inbraaksyfers is gehalveer danksy die hulp en samewerking van buurtwagte wat intussen gevestig is.”

Hy beoog ook om ’n goeie verhouding met die plaaslike wetstoepassingsdienste en verkeersdepartement te vestig, omdat Nosilela glo ’n veilige stadskonsep werk. “Ons het nie die begroting vir die nodige kamerastelsels nie. Die polisie en die wetstoepassers moet daarom saamwerk, in een kamer wees, kameras monitor en bestaande hulpbronne ondersteun – veral in die gebiede waar misdaad hoogty vier.”

Nosilela voeg by en vertel hoe hy op die jeug gaan fokus. “Ek wil die jeugstrukture ook betrek, want die jeug is diegene wat betrokke raak by misdaad en die jeug is tog die toekoms van die gebied. As die jeug misdaadrekords het, beteken dit ons belê nie genoeg in die jeug nie.”

Die beveiliging van plase en hul inwoners is vir Nosilela ook van kritieke belang. “Die landelike veiligheidstrategie is daar, nou moet ons seker maak dit word geïmplimenteer.

“’n Vennootskap moet tussen die polisie en die boeregemeenskap, insluitend die plaaswerkers, gevestig word,” voeg hy by.

Nosilela beoog verder ook om met die departement van binnelandse sake te skakel wat onwettige immigrante betref. “As ons kyk na die statistieke, is dit duidelik die meeste misdaad word deur buitelanders gepleeg. Ons sal daarop moet fokus.”

Nosilela sien uit om sy alles te gee in sy laaste vyf jaar van diens in die SAPD. Sy passie buiten die SAPD as ’n toegewyde Christen is om die Here te prys. Sy vrou het vir nou in Hermanus agtergebly omdat hul dogter daar in matriek is. Hul ander dogter het saam met hom na Malmesbury verhuis.

Sy grootste prestasie tot dusver is die erkenning as stasiebevelvoerder. “Ek glo daar is baie polisiebeamptes wat beter is as ek. Ek weet daar is polisiebeamptes in laer range beter as ek, so daarom is my bevordering tot stasiebevelvoerder ’n groot wonderwerk in my loopbaan en ek beskou dit steeds as ’n groot voorreg. Om die afgelope jare stasiebevelvoerder te wees, is ’n groot verantwoordelikheid, maar ook ’n ongelooflike ervaring,” voeg hy trots by.

Nosilela sien daarna uit om sy laaste paar jaar in die polisiediens in Malmesbury te voltooi. Hy vertel hoe hy slegs slapelose nagte gaan hê wanneer hy nie ’n oplossing vir ’n probleem het nie. Daarom poog hy altyd om seker te maak dat daar altyd ’n oplossing gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article