Agter van links is Uys van der Westhuijzen (Malmesbury Veiligheid) en Henfre Brand (Malmesbury-gemeenskapspolisiëringsforum voorsitter)

Die Malmesbury-sakekamer het verlede week Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Malmesbury Veiligheid, verwelkom waar hy sy planne gedeel het oor hoe hulle beoog om Malmesbury veiliger te maak.

Die Swartland-munisipaliteit het ook onlangs ’n ooreenkoms met Uys aangegaan om met ’n aksieplan vorendag te kom wat kan help om Malmesbury beter te beveilig.

Van der Westhuijzen het Donderdagaand (21 Julie) by die sakekamer-vergadering die noodsaaklike mikpunte uitgelê hoe om Malmesbury se sakeondernemings en woonbuurte beter te beveilig.

“Die hoofdoel is om veiligheid vir almal te skep,” het hy gesê.

Volgens Van der Westhuijzen het hy gekyk na ’n studie wat in Australië gedoen is oor die invloed van misdaad in woongebiede en op sakeondernemings, en sekere aspekte daaruit gelig om as moontlike veiligheidsmaatreëls vir woonbuurte, sakeondernemings en plase te dien.

Hy het gesê sowat 97% van verdagtes is in besit van wapens wanneer hulle ’n misdaad pleeg.

Hy het ook gesê hierdie verdagtes val tussen die ouderdom van 19 en 26 jaar en in 30% van die gevalle van misdaad kan dit tot moord of poging tot moord lei.

Van der Westhuijzen het gesê die eienaars van sakeondernemings moet besef 17% van verdagtes is buitelanders en 46,8% van verdagtes wat by misdaad betrokke raak, is werkloos.

“Wanneer dit by huise kom, moet bure met mekaar kommunikeer en almal saamwerk om verdagtes vas te vat,” sê Van der Westhuijzen.

“Maak seker dat julle heinings het wat kan sluit en dat die beams rondom julle wonings werk. Noodknoppies moet altyd aan julle wees, al sit julle in die huis – dit mag nie net rondlê nie. Maak ook seker dat al die buiteligte werk.”

Van der Westhuijzen het gesê in die meeste gevalle is die verdagte altyd bewus van wat om hom/haar aangaan wanneer inbrake plaasvind. Hy het ook voorgestel inwoners en sake-eienaars moet buiteligte installeer wat tydskakelaars het, aangesien dit as afskrikmiddel vir verdagtes kan dien.

“Wanneer buiteligte aangebring word, moet dit nie direk op die grond skyn nie, maar wegskyn sodat die erf gesien kan word. Maak ook seker alle sirenes binne en buite die huis werk as dit geaktiveer word,” het hy gesê.

Hy het gesê dit is ’n goeie idee om gruis of klippies buite die heinings of in die oprit te strooi, want dit gee die eienaar die vermoë om te kan hoor wanneer verdagtes probeer inbreek.

Van der Westhuijzen, wat ook die nasionale voorsitter van die Agri SA-sentrum vir uitnemendheid vir landelike veiligheid asook die provinsiale voorsitter vir Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid is, het in 1986 by die Malmesbury-landbouvereniging aangesluit, waar hy van 2012 tot 2013 as voorsitter gedien het. Hy is ’n senior reserwemagsoffisier met die rang van luitenant-kolonel en het in 2018 die eerste Suid-Afrikaanse weermagoffisier geword het wat verkies is tot voorsitter van die Internasionale CIOR- militêre vaardigheidskomitee, wat by Navo geaffilieer is en militêre vaardighede evalueer. Hy was ook die bevelvoerder van die Kommando in die Weskus-streek tussen 1998 en 2008.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article