Wilma Christoffels voer al vir jare Montagu se honger kindertjies.


Om ma te wees, is vir baie vroue ’n natuurlike gawe, maar om ma te wees vir ander vroue se kinders, is iets besonders.

Wilma Christoffels van Montagu het die organisasie Helpende Handjies in 2015 begin met die doel om geestelike programme met vroue op plase te doen. Haar planne en lewe het egter aan die begin van die 2016-skooljaar onherroeplik verander.

“Drie dae nadat die skole in 2016 begin het, het my dogter huis toe gekom en my vertel van ’n meisie in haar klas en haar boeties en sussie wat dit nie baie breed het nie. Ek het summier vir haar gesê sy moet nie die volgende dag met haar vervoer huis toe kom nie, maar saam met daai drie kinders na ons huis toe moet stap. Toe ek hulle sien, het ek geweet ek moet net help,” verduidelik Christoffels.

Sy het toegesien dat die kinders elke middag ná skool ’n goeie maaltyd ontvang en van daar af het sy meer en meer kinders gevoer.

“Ons het toe gegroei van die drie sibbe na tot 30 kinders, en vandag kom 80 kinders vir wie ek elke dag iets te ete gee. Hulle kom voor skool vir pap en in die middag kry hulle ’n gekookte bord kos. Ná dit sal ek vra wie huiswerk het, en dan help ons die kinders met hul huiswerk. Voordat hulle huis toe gaan, probeer ek ook om vir hulle iets te gee.”

Sy sorg ook dat elkeen van hulle skool toe gaan en pak soms ook ’n kosblikkie om saam skool te neem – as sy iets het om in te pak.

Sy sê haar man en twee kinders was baie tegemoetkomend toe sy met hierdie projek begin het.

“My man is soos die pa-figuur. Hy is baie lief vir al die kinders, maar is ook streng wanneer hy moet wees. Hy neem hulle ook soms vir roomys. My dogter het dieselfde hart as ek en dit is deur haar dat ons hiermee begin het. My seun is wel stil, maar baie ondersteunend,” vertel sy heel trots van haar familie.

Buiten die feit dat sy elke dag 80 honger mae vul, het sy ook elke jaar ’n projek waar sy daagliks honderde kinders voer.

“Ons begin die winter-projek op 1 Mei en dit duur tot die einde van Augustus. Gedurende hierdie tydperk gee ons elke dag een maaltyd aan 700 kinders.”

Helpende Handjies werk slegs met skenkings.

“As mense aan ons ’n skenking wil doen, kan hulle enige kossoort gee. Ons voer kinders van alle ouderdomme – van pasgebore babas tot tieners in hoërskool.”

Christoffels bieg dit was oor die jare nie altyd maklik om almal te voer nie.

“Daar is tye wat dit moeilik gaan, maar die Here voorsien altyd. Ek het nou die dag teruggesit en dink ek het nou al so baie bereik, maar dit was eintlik my geloof wat deurgedra het – ek doen alles deur gebed,” het sy dankbaar uitgedruk.

Op die vraag hoekom sy die naam Helpende Handjies gekies het, sê sy: “Daai dag in Desember 2015, toe ek met die naam vorendag gekom het, het ek nie gedink nie; ek het ook nie geweet dat ek met kinders sal werk nie. Dit was die Here se werk en Sy plan – al die pad.” . Enigeen wat ’n helpende hand aan Wilma Christtoffels kan uitreik kan haar by 076 116 9088 kontak of by Barlinkastraat 14 besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article