Evangileen Lakey


“Ek sien so dikwels vroue wat hul lewe weggooi en niks doen met hulle tyd nie; vroue wat geen moeite doen om hulself te ontwikkel nie.

Aan die woord is Malmesbury se Evangileen Lakey, wat pas 40 geword het.

“Ek wil ook graag elke vrou aanmoedig om uit te spring en haarself te laat groei – dis tog jou lewe en die keuse is joune!

“Ek was ook daar, maar met harde werk kán ’n mens jouself verbeter. As jy glo jy kan niks doen sonder matriek nie, het ek goeie nuus: Deesdae help plekke soos Weskus Kollege en Navos jou daarmee!”

Evangileen wéét, want nadat sy op 18 swanger geraak het en moes uitspring om te gaan werk, het haar matriek agterweë gebly.

Sy het in Franschhoek grootgeword en Lenny Lakey in die Paarl ontmoet.

Ná hul troue het sy na Malmesbury verhuis en aanvanklik ’n verhuringsonderneming in die onthaalbedryf gehad.

Daarbenewens het Evangileen van 2009 tot Januarie 2021 by die Malmesbury Spur gewerk.

“My droom was nog altyd om ’n maatskaplike werker te word. Toe ek vroeg verlede jaar nog treur oor my Spur-werk wat ek weens die pandemie verloor het, ry ek en Lenny eendag verby die Hugenote Kollege. Heeltemal onbeplan gaan doen ek daar navraag oor ’n kursus in maatskaplike werk.

“Die kollege bied verskillende kursusse aan, en tot my vreugde was daar ’n kursus vir my. Dit was ’n vreemde ondervinding om as 39-jarige ma van vier kinders tussen 18-jariges in die klas te sit! Maar terwyl ek soos ’n ma vir vele studente geraak het, het my wêreld vir altyd verbreed. Die res is geskiedenis, want ná baie praktiese ondervinding en goeie punte, het ek my kwalifikasie as hulpmaatskaplike werker net ná my 40ste verjaardag gekry.”

Hoewel Evangileen nog nie ’n vaste aanstelling in hierdie beroep het nie, doen sy vrywillige werk in die Swartland-hospitaal.

Vir haar bestaan die woord omdraai glad nie. “As jou mindset reg is, kan jy jou omstandighede verander, al is dit dalk nie maklik nie; al gee jy net een treetjie op ’n slag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article