Marissa Beyers by haar dogter, Maryke, op ’n foto wat sowat drie weke voor Maryke se selfdood geneem is.

Credit: SYSTEM

“Niks kan jou ooit voorberei vir daardie oproep nie. Een sin kan jou hele lewe verander, en jy besef dadelik dat jy nooit weer die kans sal kry om met jou dogter te praat nie.”

Só sê Marissa Beyers, ’n 59-jarige vrou van Robertson, wat in 2015 haar dogter aan selfdood verloor het.

Marissa het haar dogter, Maryke, as enkelouer grootgemaak en het in 2002 van Kaapstad na Worcester verhuis. Maryke was destyds 11 jaar oud en het gesukkel om by haar nuwe skool in te pas.

“Sy was ’n kunstige siel. Sy het altyd gedroom en kinders sou nie daardie egtheid aan haar ooit verstaan nie. Ek moes verhuis vir werk en het bloot nie ’n ander keuse gehad nie. Haar pa is oorlede toe sy maar drie jaar oud was, en om alles alleen te moes doen, was moeilik.”

Marissa het net ’n broer wat oorsee woon, en albei haar ouers is voor haar dogter se geboorte oorlede.

“Ek moes my hele lewe lank verlies verwerk. Dit raak nooit makliker nie, maar op 2 Oktober 2015 het ek met verlies te doen gehad wat ek geen ouer toewens nie. Geen ouer moet ooit sy eie kind hoef te begrawe nie,” vertel ’n emosionele Marissa aan Standard.

Sy beskryf die dag as buitengewoon vaal en koud – ’n vreemde verskynsel vir Oktober in die Boland. Sy onthou hoe sy daardie oggend vroeg vir haar dogter ’n WhatsApp-boodskap gestuur het en gesê het: “Mamma is baie lief vir jou”, en het net ’n rooi hartjie daarop teruggekry.

“Dit was seker so twee-uur die middag. Ek was by die werk en my foon het gelui. Ek het nie die nommer herken nie, maar iets het gesê ek moet antwoord. Die man se stem was diep en dit het geklink of hy elke asem noukeurig sluk om nie te breek nie.”

“Tannie… Sy is dood. Tannie moet Kaap toe kom,” het die stem oor die foon gesê.

Marissa het daar en dan alles gelos. Sy vertel hoe sy gevoel het asof sy in ’n dwaal is en tot vandag toe nie weet hoe sy in Kaapstad gekom het nie.

“Dit was bloot genade dat ek veilig was. Ek het heeltyd in my kop gedwaal en die moontlikhede het soos ’n fliek afgespeel. Is sy vermoor? Was sy in ’n botsing? Wat gaan aan? Dit was egter veel erger.”

Die stem op die telefoon was Maryke se buurman in die woonstelgebou waar sy gewoon het. Sy het vir ’n ander vriend wat naby woon, ’n boodskap gestuur, wat dadelik kommer gewek het.

“Ek kan nie meer so aangaan nie. Dit voel of ek nie hoort nie. Ek is jammer. Ek wil dit nie doen aan die mense wat vir my omgee nie,” lui haar finale WhatsApp aan dié vriend.

Hy het sowat twee ure nadat die WhatsApp gestuur is, dit eers gelees en hom dadelik na haar woonstel gehaas. Hy het die deur afgeskop en haar dood op die vloer aangetref. Toe haar ma daar aankom, moes sy haar dogter se lyk gaan uitken.

“Ons is ingelig dat sy haar polse gesny het. Ek het nooit in my lewe gedink dat ek my eie kind sou moes begrawe nie. Sy is al wat ek gehad het. Ek was trots op haar. Sy het ná skool grafiese ontwerp studeer en was suksesvol in haar loopbaan – sy was net nie gelukkig nie.”

Marissa voeg by dat sy nie besef het haar dogter was ongelukkig nie en wens sy kon haar meer bystaan.

“ ’n Mens kan altyd voel jy moes meer gedoen het of meer betrokke gewees het, maar dit is moeilik as jy nie die tekens raaksien nie. Ek wil net hê ander mense moet weet daar is hulp. Daar is mense wat kan help.”

Saterdag 10 September was wêreld-selfdood-voorkomingsdag.

“Skep hoop deur aksie” is vanjaar se tema met ongeveer 703 000 mense elke jaar wat oor die wêreld heen hul eie lewe neem.

Vir elke selfdood is daar ongeveer 20 ander mense wat ’n poging aangewend het en baie meer het ernstige gedagtes hoe om selfdood te pleeg.

Miljoene mense ly aan erge hartseer of word andersins diep deur selfdood geraak.

Hierdie bewusmakingsdag fokus elke jaar om die aandag op hierdie kwessie te plaas, die stigma te verminder en bewustheid te verhoog.

. Vir enige hulp, kontak gerus 0800 657 567 – dit kan dalk ’n lewe red.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article