Christa Potgieter en haar seun, Vincent “Vince” Potgieter (36) wat in Julie 2019 op die McGregor-pad buite Robertson doodgery is.


“Die kar wat my seun doodgery het, se kenteken en twee onpaar tekkies is al wat ek van hom oor het . . .”

Dít is die woorde van Christa Potgieter, ’n ma van Mosselbaai, wat sedert 2019 antwoorde by die owerhede eis nadat haar seun en sy vriend op die McGregorpad buite Robertson doodgery is.

Vincent “Vince” Potgieter (36) en Daniël “Niël” Hughes (55) het op 25 Julie 2019 omstreeks 20:30 na Huges se huis op ’n plaas buite Robertson gestap om daar te oornag. Potgieter, oorspronklik van Mosselbaai, was ’n swerwer en het gereeld geryloop.

Die twee vriende is toe op hierdie donker stuk pad deur twee voertuie getref en vir dood agtergelaat.

“Een voertuig was ’n Toyota Yaris en die ander voertuig is onbekend. Die vermoede bestaan dat een van die twee seuns doodgery is en die ander een wou help, maar toe kom nog ’n voertuig en ry my seun of sy vriend dood. Alles is nog onseker,” vertel Potgieter aan Gazette.

Ná die voorval is ’n klagte van strafbare manslag geopen en die plaaslike polisie het met ’n ondersoek begin. Hoewel Potgieter en Hughes in Julie doodgery is, is Pieters eers teen omtrent die middel van Augustus van haar seun se dood in kennis gestel.

“Hulle was gereed om hom te veras, want hulle kon ons blykbaar nie opspoor nie. Iemand het weer aan die saak gewerk en deur die paar items gegaan wat op die toneel gevind is. Hulle het ’n koerantuitknipsel in my seun se sak gekry, wat hulle tot by my gelei het.”

Hierdie koerantuitknipsel was ’n berig wat George Herhald oor Potgieter en sy lewe as swerwer geplaas het. Die ondersoek het Potgieter deur die koerant opgespoor.

“Die nuus het my gebreek. Ek het gedink ek gaan van my kop af. Dit het net nie sin gemaak nie. Ek kon my seun nie eens groet of vir oulaas sien nie, want sy liggaam het begin ontbind. Hoekom is hy ten minste nie net gebalsem nie?” meen Potgieter.

Daarna het Potgieter daagliks probeer om uit te vind wat met haar seun gebeur het, en meen dat die skuldiges moet vir hul dade boet.

“My seun kon tydens die inperking by my kom bly het. Ons kon tyd saam deurgebring het. Ek mis hom elke liewe dag. Die polisie laat weet ons niks nie, en as ons bel, belowe hulle om terug te kom na ons toe, maar dit gebeur net nooit nie.”

Huisgenoot het berig die vermoede bestaan dat ’n polisiebeampte wat van diens af was, in die voorval betrokke was. Die Wes-Kaapse polisie het egter aan die publikasie bevestig dat die ondersoek afgehandel en na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys is om te besluit hoe om die saak verder te hanteer.

Navrae is aan die NVG en ook aan die Robertson-polisie gerig, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.

“Al waarvoor ons vra, is menslikheid. Al was my seun dalk verkeerd en het hy in die middel van die pad geloop of wat ook al – ons vra antwoorde. Niemand kan enigsins verduidelik wat daar gebeur het nie. Dit maak ’n mens mal.”

Volgens Potgieter is die Hughes-familie ook op soek na antwoorde en was hulle gereeld in kontak oor die saak. “Ek kon agterkom dit het hulle erg geraak. Veral sy broer. Almal soek net geregtigheid.”

Al wat Potgieter van haar seun oorhet, is sy skoene en die kenteken van die Toyota-voertuig wat vermoedelik tot die twee vriende se dood bygedra het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article