Die brand, wat glo deur petrolbomme veroorsaak is, het groot skade aan die huis in Gousblomstraat aangerig.


’n Vrou van Darling en haar baba is ongedeerd nadat vermoedelik die vrou se kêrel die huis probeer afbrand het terwyl hulle in die gebou was.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die brand Saterdagoggend 9 Julie in Gousblomstraat uitgebreek.

Die vrou (39) het aan die polisie gesê sy en haar eenjarige babadogtertjie het geslaap toe hulle om 04:00 wakker gemaak is. Haar kêrel, Nkosinathi Ngqayimbana (35), het glo gesê sy moet wakker word, want hy moet met haar praat. ’n Stryery het waarskynlik ontstaan en teen 06:30 het Ngqayimbana glo die meubels teenaan die agterdeur geskuif, vermoedelik om te keer dat sy meisie en die baba ontsnap. Daarna het hy na bewering petrolbomme oral in die huis aan die brand gesteek en deur ’n venster gevlug.

Alles het vinnig vlamgevat.

Die vrou en haar dogtertjie kon weens die vlamme nie deur dieselfde venster ontsnap nie. Sy het toe die diefwering voor die badkamervenster uitgebreek, waardeur sy en haar kind – genadiglik sonder enige beserings – ontsnap het.

Volgens Filander is die huis heeltemal onleefbaar ná die brand en die meeste meubels is erg beskadig of vernietig.

Die polisie het Ngqayimbana op aanklag van brandstigting, twee klagtes van poging tot moord, verset teen inhegtenisneming en die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem.

Hy het op 12 Julie in die Darling-landdroshof verskyn.

John Goliath, ’n kampvegter vir sy gemeenskap, wat in besonder ook gesinsgeweld in sy wyk teenstaan, het namens die vrou en haar dogtertjie aan Weslander, susterskoerant van Gazette gesê “hulle het alles verloor”.

“Hulle woon nou saam met ander mense in ’n kamer en het ’n groot behoefte aan klere, beddegoed, kos, speelgoed of enigiets anders wat noodsaaklik is,” het hy verduidelik.

Hy het ook gesê die brandskade aan die huis is erg, maar die huis sal wel reggemaak kan word.

Hy reik na die gemeenskap en plaaslike sakelui uit om hul harte en beursies vir die gesin oop te maak.

As enigiemand bereid is om by te dra om die huis te herstel of iets soos verf te skenk, kan hulle Goliath by 062 831 4343 bel.

“Groot asseblief, mense. Daar is so baie wat beloftes maak om te help, maar dit nooit nakom nie. Wees jy die verskil en help ’n gesin in nood.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article