Die eerste luiperd in die omgewing van Voor-Paardeberg is onlangs met ’n satelietsender gemerk.
Só vertel dr. Bool Smuts, uitvoerende hoof van The Landmark Foundation, ’n organisasie sonder winsbejag.
Dit was ook die 52ste luiperd wat suksesvol deur die organisasie gemerk is.
The Landmark Foundation wat hom die afgelope 20 jaar onder meer op die bewaring van wildspesies en veral roofdiere toespits, het in samewerking met plaaslike grondeienaars en Cape Nature daarin geslaag om die wyfie verlede week (Dinsdag 23 Mei) in ’n vanghok aan te keer.
Die span van The Landmark Foundation het kort daarna die luiperdwyfie van 31 kg deeglik ondersoek, onder meer DNS-monsters geneem en haar met ’n halsband gemerk. Sy is later dieselfde dag op dieselfde plek vrygelaat om nie ander luiperds in die omgewing se loopgebiede te versteur nie.
Volgens Smuts sal die satelietsender hulle nou in staat stel om haar beweegpatrone in die spesifieke omgewing na te vors en meer oor die luiperd te leer. “Die wyfie gaan ook vir minstens die volgende jaar bestudeer word,” voeg hy by.
Wat die reddingsoperasie nog meer spesiaal maak, was die feit dat die luiperd ’n wyfie is. Volgens die organisasie is die vangs van ’n wyfie baie meer uitdagend as dié van ’n mannetjie.
The Landmark Foundation staan sedert verlede jaar grondeienaars in die gebied buite Malmesbury by waar ’n luiperd in die roof van vee geïmpliseer was. “Histories het die gebeure baie keer tot die doodmaak of verwydering van die luiperds gelei. Daardie dag het ons die samewerkende boere in die vrylating van die kat op dieselfde perseel waar die vangs plaasgevind het, gehelp.”
Luiperdspore is sowat ’n jaar gelede op grondeienaars se plase in dié omgewing opgemerk, verduidelik Graham Willers, op wie se plaas die luiperdwyfie gevang is.
Een van die inwoners se skape het ook verdwyn, en ’n luiperd is as die skuldige verdink. Die organisasie is genader en ’n vanghok is reeds gedurende Maart verlede jaar gestel met die hoop dat die luiperd vasgetrek kon word.
Die luiperdwyfie is volgens die organisasie in ’n uitstekende toestand. Sy is ook die 71ste luiperd wat deur die organisasie, in samewerking met grondeienaars en Cape Nature, gered is.
Die organisasie verduidelik verder die Voor-Paardeberg is besonders juis omdat dit ’n geïsoleerde deel van ’n natuurlike habitat is – ondanks landboubedrywighede.
Om die luiperds wat hier floreer en herproduseer, te verstaan, is verdere navorsing volgens hulle krities vir die voortbestaan van dié vrylopende karnivore.
“Ons streef daarna om bedreigde spesies en hul habitatte te beskerm en te bewaar. Ons werk word moontlik gemaak deur suksesvolle samewerking met grondeienaars, plaaslike owerhede en plaaslike gemeenskappe.”
Smuts het die plaaslike boere Willers en Theuns Müller as die ware helde beskryf en Cape Nature en ondersteuners geloof vir hul aandeel in die suksesvolle redding van die luiperdwyfie.




