’n Abbotsdale Lillies-voorspeler op die aanval teen die Vanrhynsdorp Arende op die Abbotsdale-sportterrein die afgelope Saterdag (12 Oktober) in die spanne se eerste Sanlam-Boland-Top-12-uitspeelwedstryd. Foto: David Rossouw


Die Sanlam-Boland-rugbyunie se Top-12-Grootuitdaagbekerwedstryde het Saterdag (12 Oktober) afgeskop, met opwindende uitkloprugby.

Die Swartland-kampioene, Lillies, het Vanrhynsdorp se Arende op Abbotsdale voor ’n groot skare gepak, terwyl Darling (naaswenner) na Robertson gereis het.

Lillies, wat die wedstryd 42-36 gewen het, het eerste bloed geruik toe sy kaptein, Wian Syster, ná drie minute gedruk het om met 7-0 voor te loop. Hulle het die telling vergroot toe hulle ’n skrum vyf meter van die Arende se doellyn afgedwing en die regtervleuel, Reduwaan April, in die regterhoekie oorgestuur het, met Ethan Diston wat verdoel het om dit 14-0 te maak.

Die besoekers, wat nooit opgegee het nie, het met ’n onverdoelde drie geantwoord om die agterstand na 17-5 te verklein.

Goeie hardlooprugby deur die Lillies se agterlyn het die skare op hul voete gebring toe die span ’n derde drie druk, wat die telling na 22-5 vergroot het.

Die Arende het egter teruggeslaan met ’n tweede onverdoelde drie – die besoekers het die tuisspan se swak dissipline uitgebuit nadat die tuisspan ’n geelkaart gekry het.

Die tuisspan se tweede geelkaart het die Arende gehelp om ’n vierde drie te druk en die gaping tot 27-22 in Lillies se guns te laat krimp.

Met 20 minute speeltyd oor is Lillies ’n strafdoel toegeken en het die strafdoel oorgeskakel om die telling 30-22 te maak. Godwin Jacobs het Lillies se vyfde drie gedruk en die telling na 37-22 laat aanrol.

Die Arende het vinnig met ’n drie in die 30ste minuut geantwoord en die telling 37-29 gemaak.

Goeie spel deur Lillies se voorspelers het tot April se tweede drie gelei en die telling na 42-29 verhoog voordat hy die veld met ’n besering verlaat het, wat die wedstryd vir vyf minute gestop het.

Die Arende se laaste poging het die telling tot 42-36 verklein, maar dit was reeds te laat en hulle het uiteindelik die wedstryd verloor. Die Arende het egter twee bonuspunte verdien.

In Robertson het Darling sy rieme teen verlede jaar se finalis met 64-21 styfgeloop.

Ander uitslae:

Safcol United 28-25 Ceres;

Young Spurs 16-46 Saldanha;

Vredenburg 26-32 Caledon;

Newtons 28-29 Villagers

Ná die eerste ronde wedstryde beklee Lillies in Groep A die eerste plek, met Caledon en Villagers wat hom volg. In Groep B loop Robertson voor op die punteleer, gevolg deur Saldanha en Safcol United.

Wedstrydbepalings vir ronde twee:

Worcester Villagers t. Abbotsdale;

Caledon t. Newtons;

Saldanha t. Safcol United;

Vanrhynsdorp Eagles t. Vredenburg;

Darling t. Young Spurs;

Ceres t. Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article