Verteenwoordigers van die munisipaliteit saam met borge en die pryswenners. Agter staan Fred Laker (Lyners and Associates), Tijmen van Essen (burgemeesterskomiteelid vir ingenieursdienste), Aldu Le Grange (Bigen), Taschany Erasmus (St. Michaels Primêre Skool) wat langs Druppel staan, die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas en Louis Zikman (direkteur vir siviele dienste). Voor van links staan Aleesha Naqi (Laerskool Riebeek-Kasteel), Jodrin Liesing (Laerskool Riebeek-Kasteel), Revelin Visser (Chatsworth Primêre Skool), Ethen Errens (St. Thomas Primêre Skool) en Melnicia Groepies (Chatsworth Primêre Skool). Lyners and Associates en Bigen, wat by plaaslike watervoorsieningsprojekte betrokke is, was onder meer borge van die geleentheid, asook SKCMasakhizwe Engineers, wat nie die geleentheid kon bywoon nie. Foto: Charlotte Lesch


’n Tekenkompetisie waaraan laerskoolleerders van reg oor die Swartland gedurende nasionale Waterweek kon deelneem, se wenners is gedurende ’n spesiale geleentheid aangekondig.

Die kompetisie, wat deur die Swartland-munisipaliteit aangebied is, was die eerste in sy soort, verduidelik die kommunikasiebeampte, Mart-Marié Haasbroek.

Leerders wat aan die kompetisie deelgeneem het, het ’n opdrag ontvang om ’n plakkaat oor waterbesparing te maak , met die titel “Spaar water” Altesaam 32 leerders het ingeskryf. Ses pryswenners is die afgelope Woensdag in die Swartland-munisipaliteit (SM) se splinternuwe raadsaal aangekondig.

Suid-Afrika vier elke jaar nasionale Waterweek in Maart om die belangrikheid van water as ’n skaars hulpbron na vore te bring. Die SM het besluit om die boodskap oor die belangrikheid van water as ’n skaars hulpbron by die jeug tuis te bring deur dié kompetisie van stapel te stuur.

Die ses pryswenners se inskrywings het die beoordelaars behoorlik aangegryp – nie net oor hoe kunstig hul plakkate was nie, maar ook oor die boodskap wat deurgekom het.

Die SM het sy dankbaarheid teenoor die deelnemende skole uitgespreek.

Die ses leerders se kunsprente sal binnekort in die vorm van plakkate aan die publiek versprei word en as die munisipaliteit se amptelike advertensie vir die besparing van water gebruik word – juis om die jeug ook te betrek.

“Julle gaan ons help om die boodskap oor waterbesparing aan die breë gemeenskap te verkondig,” het die burgemeester, Harold Cleophas, aan die pryswenners gesê.

Hy het ook die geleentheid gebruik om die leerders as die munisipaliteit se amptelike ambassadeurs vir water aan te stel.

Cleophas het tydens die prysuitdeling verduidelik wat ’n skaars hulpbron water in die land is. “As ons nie water het nie, kan ons nie oorleef nie. Ons het vanjaar Waterweek gebruik om oor water te praat. Ons het besluit om ’n kompetisie te hou en te kyk hoe ons jong inwoners oor water dink. Die doel daarmee was om jong mense van ’n jong ouderdom af te leer oor die belangrikheid van water. Een van die belangrikste lewenslesse is hoe om water te gebruik. Só leer en kweek ons ’n nuwe geslag, wat oor 20 jaar steeds die boodskap gaan versprei. Solank as wat julle lewe, moet julle die boodskap oor die belangrikheid van water versprei. Ons moet nooit ophou praat oor die skaars hulpbron nie,” het hy beklemtoon.

Hy het gaste ook herinner dat water wel gratis van bo af kom, maar dat die kostes verbonde aan water begin insluip wanneer die water tot binne die kraan gebring word.

“Ons kan dus nie bekostig om water te mors nie. Dit is nie net vir ons nie, maar ook vir die plante en vir die diere. Oral is water nodig. Ons moet water spaarsamig gebruik en sorg dat die water wat ons het, skoon bly en dat nie in die damme en riviere gemors word nie.”

Die burgemeester het die leerders bedank vir die boodskappe wat hulle deur hul inskrywings oorgedra het.

“Ons besef nie die waarde van water totdat daar nie meer water in die kraan is nie. “

Louis Zikman, direkteur van siviele dienste by die munisipaliteit, is dit eens dat diegene betrokke by dienstevoorsiening aan gemeenskappe deeglik bewus is van die belangrike rol van watervoorsiening vir ’n volhoubare toekoms. “Swartland is ’n waterskaars-gebied. Daarom is dit belangrik dat die boodskap oor die bewaring van water ook aan die jeug, wat die toekoms van môre is, oorgedra word. Inisiatiewe soos dié is vir die SM van besonderse belang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article