Die Langeberg-munisipaliteit het onlangs ’n verandering aan sy leierskorps gemaak en pronk met ’n nuwe munisipale bestuurder, wat hierdie munisipaliteit en sy mense met ’n passie wil dien.
Daniël Lubbe (59), is ’n gesoute en professionele leier met 32 jaar ondervinding in plaaslike regering en ’n passie vir gemeenskappe soos dié van die Langeberg.
Lubbe het die leisels verlede maand oorgeneem by Anton Everson, wat die posisie tydelik beklee het, en sien daarna uit om ’n sukses van sy termyn te maak.
Lubbe se reis het in 1990 begin toe hy by ’n streekdiensteraad in die ou Transvaal aangesluit het.
“Ek het in Pretoria grootgeword en die eerste 27 jaar van my lewe daar gewoon. Toe ek die eerste keer in plaaslike regering begin werk het, sou ek nooit kon raak op watter reis dit my sou neem nie.”
Lubbe het in 1992 na KwaZulu-Natal verhuis, waar hy verantwoordelik was om munisipale veranderinge in die Suid-Afrikaanse landskap, wat in daardie stadium aan die verander was, te bewerkstellig.
“Daar is nie ’n stuk grond in Suid-Afrika wat nie onder ’n munisipaliteit val nie. Ons almal het daaraan gewerk. En ek het die voorreg gehad om reg aan die voorpunt van hierdie proses te wees.”
Lubbe se ervaring in KwaZulu-Natal was een van sy loopbaanhoogtepunte.
“Ek het heeltyd geleer en dit het regtig gegaan oor wat almal vir die toekoms van die land beplan,” sê hy.
Lubbe het saam met 330 raadslede gewerk, van wie 66 Amakhosi-Zulu-leiers was.
“Dit was goeie tye en goeie samewerking, en het my regtig voorberei vir my beroep vorentoe.”
Deur die jare het Lubbe deur die geledere gevorder – van administratiewe hoof tot assistentdirekteur, adjunkdirekteur, direkteur, adjunk- munisipale bestuurder en munisipale bestuurder. Hy erken niks daarvan het maklik gekom nie, maar hy het aansoek gedoen vir elke geleentheid wat na sy kant toe gekom het en was gelukkig genoeg om die pos te kry.
Lubbe het later – aan die einde van 2013, nadat hy sowat 22 jaar lank vir die distriksmunisipaliteit in Richardsbaai gewerk het – as konsultant by die Suid-Afrikaanse Plaaslikeregeringsvereniging (SALGA) gewerk. Hy het die voorreg gehad om die Nasionale eksamens van Salga te skryf – vir almal wat op Salga se paneel van konsultante oor plaaslike regering wou dien.
Hy is toe as nasionale hoofkonsultant vir ’n aantal plaaslikeregeringsopdragte aangestel en het ook munisipale raadslede opgelei. Hy het dit vir drie jaar gedoen en dit baie geniet om in groot en klein munisipaliteite te werk.
Daarna het Lubbe van KwaZulu-Natal na die Wes-Kaap verhuis, waar hy sedert 2017 sowat drie jaar die munisipale bestuurder van by die Matzikama-munisipaliteit was. Daarna is hy na die Theewaterskloof-munisipaliteit vir ’n kort kontrak as munisipale bestuurder tot ná die plaaslikeregeringsverkiesing van November 2021.
Lubbe se prestasies sluit in om as hoofbeampte van die Europese Unie te dien, toesig te hou oor die implementering van ekonomiese-ontwikkelingsprojekte oor munisipale grense van die distrik en deelnemende plaaslike munisipaliteite. Hy is in 2010 as die Fifa- sokkerwêreldbeker se strategiese gereedheidsbestuurder aangestel.
Dit is egter die mense en die natuurskoon van die Langeberg wat Lubbe hierheen gelok het.
“Hierdie omgewing se pragtige berge, staproetes, die unieke karakter van elke dorp – dit is van die goed wat my na die omgewing aangetrek het.”
Lubbe is daartoe verbind om Langeberg een van die top-munisipaliteite in die Wes-Kaap te maak.
“Dit gaan harde werk wees, maar ek weet dit is moontlik, want ons het ’n baie goeie politieke leierskap, ’n baie goeie bestuurspan, en baie goeie kollegas wat hier werk,” sê hy.
Om sy visie vir Langeberg te verwesenlik, is Lubbe gefokus op die lewering van dienste van hoë gehalte, instandhouding, die ontwikkeling van infrastruktuur en die bevordering van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling.
“Ons moet konsentreer op dit wat die Grondwet van ons land voorskryf en dit as riglyn gebruik,” verduidelik hy entoesiasties.
Lubbe se passie vir plaaslike regering is duidelik in alles wat hy doen.
“Plaaslike regering is waar die werklike werk gebeur; waar ons ’n tasbare verskil in mense se lewens kan maak. Ek is dankbaar vir elke geleentheid wat ek gehad het en elke uitdaging wat ek in die gesig gestaar het. Ek is opgewonde om te sien wat die toekoms inhou.”
Lubbe het onderneem om vir die verbetering van die gemeenskap te werk. “Ek is hier in die kantoor en ek gaan my beste vir die gemeenskap gee. Dit sluit almal in – mense in die dorpe, landelike gebiede, ons belastingbetalers, die werkers, sake-eienaars, ensovoorts.”
Een van Lubbe se topprioriteite is om tyd in elke dorp in Langeberg deur te bring om die mense te leer ken en hul probleme te identifiseer.
“ ’n Ander ding wat vir my baie belangrik is, is om tyd in elke dorp in die Langeberge deur te bring – iets wat ek reeds aangepak het. Sodoende kan ek die mense leer ken, probleme identifiseer en luister na klagtes, sodat geen dorp bo ’n ander uitgesonder word nie. Elke dorp; elke landelike gebied is ewe belangrik. Daar is geen gunstelinge nie.
“Ons gaan die hele Langeberg suksesvol maak.”



