Die langverwagte Burgemeestersbeker-kompetisie, waaraan verskeie munisipaliteite binne die grense van die Boland-rugbyunie val, het op Erfenisdag afgeskop.
Onder-20’s, vroue en manspanne van onderskeidelik die Breedevallei en die Langeberg-munisipaliteit – wat as ’n eenheid as die Breë-Langebergstreek bekendstaan – het deelgeneem.
Dit het opwindende en skitterende rugby opgelewer en die groot skare rugbyentoesiaste gewis waarde vir hul geld gegee. Boonop het dit nostalgies ingewerk op veral oudspelers wat onder die Saru-vaandel aan kompetisies van die destydse Worcester-unie deelgeneem het.
Die hoofwedstryd, wat uitstekend deur skeidsregter Heinnie Sophat van Paarl hanteer is, het hope opwinding opgelewer en die uitslag was tot in die laaste minute nog op ’n mespunt gebalanseer.
Langeberg het sommer in die derde minuut al kans gekry om die telbord aan die rol te kry. Sy losskakel, Dawie Conradie, se strafskoppoging was egter links verby. Nog ’n poging kort hierna het die linker-regoppaal getref.
Langeberg het wel punte aangeteken toe sy buitesenter, Gurwin “Taboo” Williams, ná volgehoue druk oorgegaan en Conradie verdoel het. Die telling het na 14-0 gestyg toe Williams sy tweede drie onder die pale gedruk en Conradie weer verdoel het.
Nou behoorlik wakker geskud, het Breedevallei ’n sewepunter gekry toe sy vaskopstut, Duane Bredenkamp, ná geweldige druk met brute krag oorgeduik het. Sy losskakel, Ambrose Steyn, se doelskop was in die kol.
Kort hierna het die binnesenter, Granville “Zeke” Jansen, onder die pale gedruk nadat Steyn skitterend gebreek en Jansen in tandem met sy linkervleuel, Chadwin Nicolas, die verdediging op die agtervoet gehad het.
Steyn se doelskop het sake 14 elk gelyk getrek. Breedevallei het die eerste keer die neus voor gekry nadat Steyn met ’n strafskop geslaag het. Kort hierna het Langeberg se skrumskakel, Ryan George, skerp gebreek, afgerond, en self verdoel, om Langeberg teen rustyd 21-17 te laat voorloop.
Kort ná rustyd het Breedevallei weer die voortou geneem toe sy skrumskakel, Yuswin Hattingh, steelkant om gebreek en gaan druk het. Steyn het met die doelskop geslaag om sy span met 24-21 te laat voorloop.
George het hierna met ’n netjiese strafskop geslaag om sake 24 elk gelykop te maak. Breedevallei het hierna ’n vaskop gewen, waarna sy buitesenter, Shaun Jones, gaan druk het. Steyn het verdoel en die voorsprong na 31-24 gerek.
Kort hierna het Langeberg punte aangeteken toe sy haker, Stefan Hartman, in die hoekie oorgegaan het, maar George se doelskop was egter links verby.
Met die uurglas wat vinnig begin leegloop het, het Langeberg geleentheid gekry om sake in sy guns te swaai, maar sy plaasvervanger-losskakel Collin Willemse se poging het regs verbygetrek en dus Langeberg kanse tot oorwinning gekelder. . Breedevallei se o.20’s het hul eweknie uit Langeberg in die eerste wedstryd van die dag 14-11 geklop. Breedevallei se vrouespan het 35-0 gewen en die naasbestes het met ’n oorwinning van 40-16 oor Langeberg gespog.




