Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaap se minister van landbou was die gasspreker.


“Landbou is ’n werkwoord. Dit verwys na: die land is stukkend, bou die land.”

Dít was die woorde van dr. Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, wat Donderdagaand (18 April) as gasspreker by die Malmesbury-sakekamer se jaarvergadering aan die woord was.

Meyer het grootliks ’n breedvoerige oorsig oor die provinsiale regering se werksaamhede en toegewydheid tot die bevordering van landbou gebied.

Hy het vertel toe hy in 2019 as die Wes-Kaapse minister van landbou aangestel is, was daar ’n “hatigheid” en “nydigheid” teenoor boere. “Alles wat verkeerd is, was die boere se fout. Ek het besluit dat ek nie in só omgewing gaan werk nie; ek gaan die omgewing verander. Ek het toe die hutsmerk #fortheloveofagriculture geskep, en dit is nou ’n globale hutsmerk.”

“Dit is vir my die belangrikste – om lief te wees vir boere, lief te wees vir mense en lief te wees vir landbou.

“In hierdie ruimte móét jy lief wees daarvoor, want 40% van alle mense wat in die Weskus werk, werk in die landbousektor. Dus, as jy boere haat, haat jy 40% van die mense.”

Meyer sê die doel agter die hutsmerk was dus om ’n positiewe kultuur oor te dra. Hy het daarom ook besluit hy wil meer landbouskole asook meer landbou-vakke in bestaande skole bevorder.

“Daarom is ek bly hier in Malmesbury word nou weer meer landbouvakke aangebied.”

Met verwysing na ’n landbouskool wat boere in die Bonnievale-omgewing langs ’n informele woonbuurt gebou het, het Meyer gesê dit was merkwaardig om die resultate te sien. “Landbou verander gedrag.”

Volgens Meyer het nie net die dissipline verander nie, maar leerders se punte het verbeter en hulle het ook minder antisosiale gedrag getoon, wat ook daartoe gelei het dat kinders minder betrokke was by misdaad in die gebied.

Tienerswangerskappe het ook afgeneem.

Hy het trots bygevoeg dat landbouvakskole van 31 in 2019 tot 55 in 2024 toegeneem het.

“Oral sien jy ’n gedragsverandering.”

Meyer glo landbou is ’n wetenskap en wetenskap het navorsing nodig. Dus is dit sy nommer-een-prioriteit. Ander fokusareas sluit in landelike veiligheid en klimaatsverandering, ondersteuning vir boere en marktoegang.

Meyer sê ten spyte van die nasionale regering se ontkenning dat plaasmoorde ’n werklikheid is, het hulle ’n studie gedoen oor plaasaanvalle en plaasmoorde wat onder meer die tendense en modus operandi insluit, en ’n veiligheidsplan daarvolgens opgestel.

Die navorsing het getoon dat die meeste aanvalle in die Kaapse Wynland – die grootste sagtevrugtebedryf suid van die ewenaar – plaasvind.

“ ’n Aanval op ’n boer is ’n aanval op die ekonomie.

“Ons vra julle sektor – skep werk, maar dan word mense hier vermoor.”

Meyer het toe by die premier gaan aanklop en gesê hy wil ’n interministeriële komitee oor landelike veiligheid op die been bring, met hom (Meyer) as voorsitter.

Daarby is ook ’n interministeriële tegniese komitee aangestel wat hulle op tegnologie toespits – rekenaars, inligtingstelsels, satelliete en gevorderde nommerplaatherkenningstegnologie, wat plaaswagte oor die provinsie in verskillende dorpe met mekaar verbind om misdadigers vinniger vas te trek.

“Die ou wat my die meeste gehelp het, woon in julle dorp – Uys van der Westhuizen. Hy dien op my komitee,” het Meyer trots gesê.

’n Ander kwessie wat Meyer na aan die hart lê, is klimaatsverandering. Hy het verteenwoordigers van die plaaslike munisipaliteit en sakekamer aangemoedig om dit as ’n permanente item op hul vergaderings aan te bring, soos die geval is op die sakelys van die Wes-Kaapse regering se kabinetsvergadering.

Meyer het vlugtig verwys na ses plaaswerkers wat op plase in Kakemas dood is.

“Ons kan nie net praat oor klimaatsverandering nie. Mense sterf. As julle op TikTok is, kyk na wat gebeur nou in Doebai. Hier het ons verlede jaar vier keer erge oorstromings gehad. Dit is nie net klimaatsverandering nie; dit is uiterste weerpatrone wat ons ervaar. Die Wes-Kaap is ’n Mediterreense streek.”

Meyer sê hulle het dus gaan kyk waar nog Mediterreense streke is omdat dit spesifieke eienskappe van klimaatsverandering – erge weerspatrone, oorstromings en brande – inhou. “Kalifornië in Amerika is ’n Mediterreense streek. Ons het ’n ooreenkoms onderteken tussen Kalifornië en die Wes-Kaap oor hoe ons klimaatsverandering gaan hanteer.”

Die Calfire-metodologie, Kalifornië se vuurmetodologie, word ook reeds in die Kaap toegepas in die bestryding van brande, het Meyer gesê.

“In die Europese unie is dinge aan die verander, en ook in Amerika. Daardie veranderinge sluit in dat jy nie meer produkte sal kan uitvoer as jy nie aan sekere klimaatsvereistes en standaarde voldoen nie. Die eerste skoot is afgevuur; ons doen nog nie baie vir klimaatsverandering nie, maar ons is besig.”

Ander hoogtepunte in sy termyn sluit in dat hy die Wes-Kaap landbou-uitvoer van 45% na 55% laat groei het en ook ’n droogtesatelietbeheerstelsel die lig laat sien het om watergebruik in droogtegeteisterde gebiede beter te reguleer.

Meyer het ook klem gelê op die belangrike rol wat funksionele munisipaliteite in die bevordering van landbou vervul en die Swartland-munisipaliteit uitgesonder as ’n munisipaliteit wat hierin slaag.

Hy het afgesluit deur te sê hy glo almal het ’n morele plig om landbouers te help, want landbou is ’n werkwoord. “Ons moet hierdie land bou, want hierdie land is stukkend.

“Daarom het ’n mens hoop nodig, maar hoop met aksie.

“En hierdie aksie is my verbintenis om berge te versit vir my land en om berge te versit vir die provinsie, maar die belangrikste is om berge te versit vir landbouers omdat landbouers berge versit vir ons voedselsekuriteit.”. Die Sakekamer het ook Donderdagaand sy nuwe komitee verkies.

Kobus Rossouw, wat as ondervoorsitter gedien het, is as die nuwe voorsitter verkies, terwyl die voormalige voorsitter, Brian Siebrits, nou as ondervoorsitter sal dien.

Phillip Barnard is die tesourier en Marietjie Theron die sekretaresse.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article