Vervolg van bl.1

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, besef dat dit moeilik vir produsente is om onder huidige omstandighede positief te bly. Hy wil produsente gerusstel deur hulle te herinner dat landbou die ruggraat van die ekonomie is. “Sonder produsente is daar geen voedsel nie en sonder voedsel is daar geen ekonomie nie. Ons samelewing is afhanklik van landbou, ongeag die ekonomiese omstandighede, en Agri SA staan sterk agter al die produsente om hulle belange te beskerm.”

Agri SA is dankbaar dat die regering in April die brandstofheffing tydelik opgeskort en verligting aan brandstofverbruikers gebring het. Soos sake tans staan, word die brandstofheffing van R1.50 eweredig oor twee maande – Julie en Augustus – in die brandstofprys terugbereken. Agri SA is van mening dat ’n verhoogde dieselrabat op dieselfde wyse as die opskorting van die brandstofheffing verligting aan die produsent se sak sal bring. “Een van die kernaspekte van voedselsekerheid is die bekostigbaarheid van voedselprodukte. ’n Verhoogde dieselrabat sal in die korttermyn produsente se kontantvloei verlig en sodoende bydra tot die volhoubaarheid van boerderye.”

Van der Rheede verduidelik dat sowat 15% van ’n graanprodusent se produksiekostes vir brandstof gaan. Produsente staar egter ’n perfekte storm in die gesig. “Afgesien van brandstof, neem ander insetkostes toenemend toe, soos byvoorbeeld arbeidskoste as gevolg van die nasionale minimumloon. Kunsmispryse het die laaste jaar drasties gestyg en inflasie volg wêreldwye opwaartse tendense. Omrede produsente ’n netto-verbruiker is, hou stygende insetkostes ’n bedreiging in vir die volhoubaarheid van boerderye oor die medium- en lang termyn, en dus ook voedselpryse.” Hy sê dit is hoekom Agri SA die regering aanmoedig om ’n proaktiewe benadering te volg deur die dieselrebat te verhoog en só voedselsekerheid teen stygende produksie-insetkoste te bewaar.

Van der Rheede sê dit is belangrik vir die verbruiker om onderskeid te tref tussen landboukommoditeitspryse en voedselpryse. “Produsente ontvang landboukommoditeitspryse en handelaars die voedselpryse vir verkope. Die laasgenoemde twee pryse se waarde word onderskei deur ’n hele voorsieningsketting van waardetoevoeging tussen verskillende rolspelers wat verbind is.

Die gevolg van verlaagde voedselpryse vir ’n produsent sal afhang van die pryselastisiteit binne die voorsieningskettings. “In hierdie stadium is rolspelers in die voorsieningsketting onder druk namate bedryfskostes voortdurend toeneem, wat rolspelers meer elasties maak vir verandering. Dus is hulle meer sensitief vir prysveranderinge en plaas vinniger afwaartse druk op landboukommoditeitspryse wat aan produsente betaal word. Omrede produsente prysnemers is, krimp verlaagte landboukommoditeitspryse tesame met die verhoogde insetkoste die winsmarge van boerderye.

“Dit is onder andere een van die redes waarom Agri SA ’n beroep op die regering doen om die dieselrabat te verhoog en die bedryf as ’n proaktiewe optrede te subsidieer,” voeg hy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article