Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) van die Wes-Kaap het die afgelope Donderdag sy jaarvergadering by die Delsma-lokaal buite Riebeek-Kasteel aangebied.
Die relevansie van die RPO binne die rooivleisbedryf en landbousektor is as hooftema bespreek.
Die bekende motiveringspreker en een van slegs nege geregistreerde spoorsnyers in die land, Callie Roos, was die gasspreker by die geleentheid waartydens hy die RPO as relevant bestempel het.
Roos gebruik die oorlewingsinstinkte van die natuur, strategieë en taktiek van sy ervaring in die weermag asook die kuns van mensewetenskap om ervarings en intervensies te fasiliteer, wat skerper instinkte en vinniger groei inspan. “Dink net aan wat in ’n onderneming kan gebeur as die leiers hul instinktiewe vaardighede kan benut en hul intuïtiewe intelligensie kan verbeter om die groep te lei.”
Die voorsitter van RPO Wes-Kaap, Nico Uys, het verslag gedoen oor die afgelope jaar se aktiwiteite. Uys het onder meer ook die werksaamhede van die provinsiale veediefstaleenheid gedeel. Hy is dit eens dat die RPO nou meer relevant as ooit is. “Dit is belangrik om nou saam te staan om die kwessies wat tans die rooivleisbedryf se volhoubaarheid en groei beïnvloed, teen te staan,” het Uys bygevoeg.
Volgens hom is die grootste kwessies in die rooivleisbedryf tans die uitbreking van bek-en-klou-seer en die entstowwe se beskikbaarheid daarvoor, sowel as elektrisiteit, minimumlone en veediefstal.
“Landbou-ondernemings moet hul somme mooi maak vir hul voortbestaan,” verduidelik hy. Hy beklemtoon die bedryf het die afgelope jaar baie uitdagings in die gesig gestaar. “Die voortdurende bedreiging van bek-en-klou-seer in die Wes-Kaap bly een van die vernaamste uitdagings in die bedryf, terwyl die alom teenwoordigheid van veediefstal oor die vermoë beskik om die voortbestaan van die rooivleisbedryf in die gedrang te bring.”
Volgens hom was daar darem ook verskeie positiewe aspekte wat die belangrikheid van ’n georganiseerde struktuur binne die rooivleisbedryf beklemtoon.
“Vordering met naspeurbaarheidstelsels vir lewende hawe asook die wyse waarop produsente mekaar in moeilike tye bystaan, is enkele voorbeelde van die positiewe ruimte waarin die bedryf hom bevind. Die rooivleisbedryf is immers die tweede grootste landboubedryf in Suid-Afrika vir ’n goeie rede en dit is gehalteprodukte wat op ’n etiese wyse deur kundiges geproduseer word.”
Hy herhaal dat die RPO Wes-Kaap ’n produsente-organisasie is wat deur produsente gestig is om na die belange van die rooivleisprodusente in ’n komplekse waardeketting om te sien.
“Die RPO Wes-Kaap poog om te alle tye die werklike behoeftes van die produsente te identifiseer en so as relevante verteenwoordigende liggaam op te tree.”
Die RPO se nasionale voorsitter, James Farber, het die geleentheid ook bygewoon en verslag gedoen, terwyl die departement van landbou van die geleentheid gebruik gemaak het om produsente op grondvlak aan te hoor.
Die bestuur het ook alle maatskappye wat vrywillige bydraes tot die organisasie gemaak het, bedank.



