Nekkie Smit van Gateway Offroad Centre in Wellington spesialiseer in Land Rover, veral wanneer hy gevra word om modelle opnuut te herbou.


“Ek het my eerste Land Rover in 2000 hier kom koop toe ek destyds in standerd nege was. Ek het op ’n plaas grootgeword en wou altyd ’n 4×4 besit, maar my pa het net blootweg ‘nee’ gesê. Ek het eenvoudig besluit dat ek self een sal moet koop. Toe het ek ’n ou ding kom koop wat vandag nog hier staan.”

Só gesels Nekkie Smit (39), die eienaar en bestuurder van die Gateway Offroad Centre, geleë op die R44 net buite Wellington. Die plaas word deur ’n gros Land Rovers, wat oral in rye en in werkswinkels op die plaas staan, gekenmerk.

“Op enige gegewe tyd staan hier tussen 200-300 van hulle. In die scrap yard staan sowat 250 Land Rovers. Mense misgis ons gewoonlik vir ’n skrootwerf, maar die onderdele en skrootmetaal is eintlik die kleinste porsie van die onderneming, hoewel dit die meeste ruimte verg.”

Hy sê sy plaas is ’n besonderse gesig wat motoriste op die R44 se koppe laat draai en talle sommer by die werf laat indraai.

“Sommige mense is so verbaas om te leer ons maak reg. Ons doen als – van tweedehandse verkope tot onderdele-verkope, met die hooffokus op herbouings. Een groot dryfkrag is die feit dat die vervaardiging van die destydse Defender in 2016 gestaak is, en baie onderdele is nie meer maklik beskikbaar nie.”

Nekkies onthou sy eerste ervaring met dié geliefde Land Rover-handelsmerk as ’n bekostigbare ryding – iets wat die koers van sy lewe in ’n spesialiseringsveld laat ontaard het.

“Ek wou studeer om ’n meganiese ingenieur te word, maar omdat ons op ’n plaas gewoon het, het my pa gesê ek moet landbou loop swot, wat ek wel gedoen het. Van daar af het ek gedoen wat ek wil.

“En hier sit ek vandag nog – byna 20 jaar later.”

Aan die begin het dit nie juis vir Nekkies oor betroubaarheid of gehalte gegaan nie, maar eerder bekostigbaarheid.

“Dit was ’n kwessie van ek kon my eerste een destyds teen R5 000 bekostig. Dis toe ek agtergekom het hoe praktiese voertuig dit is – een wat eenvoudig is om reg te maak.”

In sy finale jaar het Nekkies die geleentheid gekry om in dié Land Rover-onderneming in te koop. Vandaar het dit gegroei tot ’n bedrywige onderneming wat op die plaaslike sowel as die internasionale mark fokus.

Die Gateway Offroad Centre is in 2008 begin, waarvan sy oorsprong uit voormalige familiebesighede bestaan het.

“Die dorp het altyd drie Land Rover-plekke gehad – ons, Down South en J&W. Die een het toegemaak, en in 2008 het die ander twee oorblywende ondernemings in een saamgesmelt. Ek het die ander vennote van 2010 af uitgekoop en alleen die onderneming bestuur.”

Nekkie het twee Gateway Offroaf Centre-takke – een in Wellington en die ander in Brackenfell, wat altesaam sowat 26 mense in diens het.

“Dit was nog altyd ’n passie en ’n liefde. Ek het geen idee waar dit vandaan kom nie – nie een van my familie-mense is meganies aangelê nie,” sê Nekkies tong in die kies.

Gateway se sakemodel word gekenmerk deur die herbouing van Land Rovers, terwyl tweedehandse verkope, Land Rover-onderdele en herstelwerk ook dienste is wat hier gelewer word.

“In die meeste gevalle pas ons die voertuie aan. Soos die een kliënt wat graag ’n Defender wou ry, byvoorbeeld, maar aan ’n rolstoel gekluister is. Ons het die Defender toe aangepas sodat hy dit self kon bestuur. In ander gevalle skakel ons ’n voertuig na ’n linkerstuur om, ensovoorts. Ons bou ook jag- of kamp-voertuie, wat Land Rover so ’n veelsydige voertuig maak.”

Nekkie se Land Rovers neem hom ver oor die wêreld, aangesien hy gereeld uitstedig is of selfs oorsee reis.

“Ons bou karre wat vir reg oor die wêreld bestem is. Dan gaan ek spesiaal om die mense te sien. Dit is altyd goed om te sien waarheen die kar moet gaan en die behoeftes wat deur die omgewing vereis word.”

Sy internasionale mark lewer sowat 25 voertuie per jaar, wat dit uit-en-uit die moeite werd maak om te spesialiseer. “Ek is maar ’n ou rondlopertjie; en hou daarvan om te toer.”

Nekkies sê die “ouens” raak só sentimenteel oor dié motors dat hulle byna enigiets sal doen om hul voertuie in stand te hou. “Daai Land Rover raak soos ’n kind in die huis.”

Dit is uiteraard deel van die aantrekking wat die bedryf vir hom inhou. “Ek het al hope mans in trane hier by my gesien – vir een van twee redes: Die een is wanneer mense moet oorweeg om hul Land Rover te verkoop, en die ander wanneer hul Land Rover opnuut reggemaak en rybaar uit ons werkswinkel kom.”

Elke Afrikaner het al grappies gedeel oor wat die beste voertuig tussen ’n Land Rover en ’n Land Cruiser is . . .

“Ek ken al ál die grappies! Ek het nie ’n gunstelinggrappie nie – hulle pis my almal af,” skerts Nekkies ter afsluiting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article