Van links staan Daneel Rossouw van Nedbank (hoofborg), Anlie Hattingh van Brand Republic, Sean Walsh, uitvoerende hoof van die KAL-groep, Dirk Strydom van Graan SA en Frikkie Maré van RPO. Foto: Charlotte Lesch


Vanjaar se Graan SA Landbouseminaar, wat gedurende die 90ste Swartlandskou in Moorreesburg plaasgevind het, het produsente, verskaffers en organisasies van binne die bedryf positief oor die toekoms gelaat nadat die gassprekers Sean Walsh, Dirk Strydom en Frikkie Maré gepraat het oor waarheen landbou in Suid-Afrika op pad is.

Ds. Morné Bruwer van Moorreesburg het die gesprek met die Woord geopen deur produsente te herinner om nederig te bly. Hy het na die oplossing vir bokke wat met hul horings in ’n geveg verstrengel geraak het, verwys en verduidelik dat die bokke hul koppe moet laat sak en daarna hul koppe moet swaai om uit die moeilikheid te kom.

Anlie Hattingh van Brand Republic, wat die paneelbespreking gelei het, het by die tema aangesluit deur te vra waar landbou tans in Suid-Afrika is, die uitdagings wat die verskillende bedrywe binne landbou in die gesig staar en watter oplossings tans op die horison is.

Hoewel landbouvertroue volgens die vertrouensindeks van die jaarlikse Agbiz-opname op sy laagste punt sedert 2009 is, weerspieël dit nie noodwendig al die bedrywe op dieselfde manier nie, het Walsh, die uitvoerende hoof van die KAL-groep, verduidelik. “Graan en oliesade het deur ’n baie negatiewe tydperk gegaan, maar die opname is in Mei voor die stigting van die [regering van] nasionale eenheid gedoen. Die vertroue is dalk onder 50, maar die toekoms lyk baie beter. Dit is juis oor die regering van nasionale eenheid en die minister van landbou wat vir die eerste keer daadwerklik spesialiste in die bedryf gebruik om raad in te bring en rigting te skep vir ons toekoms. John Steenhuisen gaan baanbrekerswerk doen as hy die regte mense aanstel,” het Walsh bygevoeg.

Benewens die weer wat na ’n La Niña-stelsel skuif, het Walsh ook verwys na talle projekte tussen die private sektor en die regering waaraan tans gewerk word. “Die beginsel is dat vir die eerste keer saamgewerk word, wat ’n positiewe uitwerking gaan hê op landbou.” Een projek wat hy aangeraak het, was onder meer die werk wat tans by hawens gedoen word om logistiek te verbeter.

Strydom van Graan SA het saamgestem en genoem dat die vertrouensindeks tot in Amerika gedaal het; grootliks weens kommoditeitspryse wat wêreldwyd laag is. “Hulle sit met presies dieselfde sentimente waarmee ons sit. Die werklikhede wat ons moet besef is – in hierdie omgewing en tyd waarin ons tans is, gaan georganiseerde landbou ’n enorme rol speel. Die politiek is baie deurmekaar. Die beamptes en die ministerie moet mekaar eers begin vind en hulle vind mekaar deur ons. Ons gaan die stabiliteit bied vorentoe.”

Volgens hom is gesprekke aan die gang wat positief is vir die landbou en dat beweging plaasvind. “Die belangrikste is om daardie momentum te behou en die energie in die regte kanale te plaas om momentum te behou.”

“Ons as ’n bedryf moet as eenheid werk en vra waar die fokus moet wees.”

Maré van die Rooivleis-produsente-organisasie (RPO), het op sy beurt aan die kwessie van biosekuriteit binne die veebedryf geraak. “Ewe skielik sien ons regtig beweging.” Hy het verwys na die wet op dieresiektes, ’n ou wet met verouderde konsepte, en na die wet op dieregesondheid van 2002, wat toe al afgekeur en nooit geproklameer is nie.

“Die minister [van landbou] het nou opdrag gegee dat daardie wet voor die einde van die jaar ingestel moet wees. Die ander kwessie van biosekuriteit is naspeurbaarheid wat net nooit regtig van die grond af gekom het nie. Daar is jare terug nooit ’n nasionale stelsel ingestel nie. Nou sit ons met ’n klomp bestuurstelsels oor naspeurbaarheid. As jy ’n nasionale stelsel verpligtend maak, maak jy ouens toe. Ons het van die bedryf se kant af gekom en gesê – kom ons kry ’n stelsel wat nie ’n nuwe naspeurbare bestuurstelsel is nie, maar eerder ’n data-oordragstelsel wat al hierdie bestuurstelsels se data kan oordra na veilings, abattoirs en voerkrale sodat ons hierdie mense by mekaar hou.

“Die minister het die gesprekke ondersteun en gesê ons moet dit instel. Die regering vat hande met die bedryf,” het hy opgewonde bygevoeg.

Hattingh het verwys na gesprekke wat drie jaar gelede negatief was en die volgende jaar na gesprekke oor oplossings gegaan het. “En nou is gesprekke positief. Nou is daar samewerking.” Volgens Walsh kan die rede daarvoor wees dat organisasies begin inbeweeg het, beter geword het en spesialiste intussentyd aangestel het. “Die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking (AAMP) is geskryf deur kundiges in die bedryf en nie die regering nie.

“Nou word vir organisasies gevra wat die oplossing is en hoe kan ons dit regmaak. Waarheen skuif die verantwoordelikheid? Na ons. Wil ons dit hê? Natuurlik!”

Maré het op sy beurt gesels oor dierewelsyn en aktivisme. “Daar is dierewelsyn, maar ons moet ook kyk na die teenkanting. Daar was probleme in die verlede. As gevolg van daardie probleme het die Suid-Afrikaanse landboubedryf ’n baie goeie riglyn geskryf. Die riglyn is na die regering gestuur en lê tans by die departement van landbou se wetlike afdeling. Dit gaan omgeskep word in regulasies. Wanneer ons daardie regulasies het en ons voldoen aan daardie regulasies, gaan ons kan verseker dat ons uitvoer onder die beste regulasies gaan gebeur.”

Hy erken dierewelsyn is nodig, maar dat die regte riglyne vir volhoubaarheid ingestel moet word.

Strydom het benadruk dat dit baie belangrik vir die graanbedryf is dat die veebedryf seëvier.

“Ons moet saam werk om biosekuriteit reg te kry. Vir die graanbedryf is die aksies net so belangrik vir die toekoms.”

Volgens hom is daar ’n paar goed wat die graanbedryf kan regkry en verander om goed vinniger teweeg te bring. “As ons byvoorbeeld logistiek kan reg kry, kan ons dit goedkoper kry. Dit gaan nie net ’n uitwerking op kommoditeitspryse hê nie, maar ook op jou insetkostes. Baie van ons insetpryse sit byvoorbeeld net vasgevang in logistiek,” brei Strydom uit.

Gesubsidieerde versekering is volgens Strydom tans ’n groot dryfveer. “Die probleem wat ons het, is dat ons marges so klein is. Indien jy ’n jaar het wat moeilik is, vat dit jou lank om te herstel.”

Volgens Strydom is daardie gesprekke tans aan die gang met onder meer die versekeringsbedryf, met die staat en met die minister.

’n Kwessie wat Strydom wel laat wakker lê, is die aktivismekomponent. Volgens hom is die tendens tans waar Europese beleide oorspoel na Suid-Afrika. “Dit laat groot risiko’s.”

Volgens Maré is dit belangrik dat produsente tussen al die geraas gaan moet fokus op dit wat regtig belangrik is. “Ons moet meer voor ons voete kyk, na ons eie situasie, produktiwiteit, insetkostes en uitsette en waar ons markte is, en dan terugkom na die werklikheid toe.”

Hy het aan produsente gesê organisasies soos byvoorbeeld Graan SA, RPO en Hortgro kan nie noodwendig die verskil op die plaas maak nie, maar eerder die geraas namens die produsent kan hanteer. “Kyk voor jou voete en moet nie oor jou voete struikel nie.”

Walsh het afgesluit deur produsente daaraan te herinner dat hulle ’n massiewe venster van geleentheid het om landbou in Suid-Afrika vir die langtermyn te verander. “Die blokke is in die regte plekke vir ons om waarlik ’n verskil te maak. Organisasies is bevoeg, in die regte posisie en vra die regte vrae. Aksieplanne word uitgevoer. Die verantwoordelikheid lê dan by die leiers van die bedryf om die geleenthede nie te misbruik nie, maar eerder ’n volhoubare toekoms vir die land en landbou te gee.”

Strydom meen die geheim is om deur die siklus te kom.

“Iewers in die stelsel gaan hy homself korrigeer. Almal kan nie heeltyd so sukkel nie. Die geheim is om op die voorpunt te bly om die siklus deur te maak wanneer die regstelling plaasvind. Die hele bedryf gaan nie net oornag toemaak nie. In Suid-Afrika het ons moeilike tye, maar baie geleenthede. Daar is nog soveel wat jy kan skep. Ons moet seker maak ons kom deur die siklus om die geleenthede te kan benut.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article