Die ouers van ’n seun wat in die Bolandse o.16-hokkiespan opgeneem is, samel geld in.
Kristian Pockpas, ’n leerder aan die Hoërskool Robertson, is die enigste by die skool wat in die Bolandse hokkiespan opgeneem is. Hierdie span sal die komende skoolvakansie aan ’n toernooi in Kaapstad deelneem.
Die jongman bieg die nuus van sy opname in die span het hom onkant betrap.
“Ek was nogal verbaas toe ek as lid van die span aangekondig Is. Ek het nie gedink ek sou die span haal nie,” bieg Kristian.
Hy speel al hokkie vandat hy sewe jaar oud is en verkies dit bo ander sportkodes.
“Toe ek aan sport begin deelneem het, het ek glad nie van rugby gehou nie. Maar hokkie, aan die anderkant – ek was sommer onmiddellik dol daaroor. Ek sien baie uit na die toernooi wat in die skoolvakansie plaasvind. Dit gaan interessant wees om saam met ander spelers van ander skole te speel, en ook om te sien hoe ander spelers die spel aandurf,” verduidelik hy.
Sy ouers, Lulinda en Klaus Pockpas, is die laaste ruk hard besig om geld in te samel vir vervoer en ander uitgawes vir die toernooi wat hy in Kaapstad moet bywoon.
“Om aan die toernooi deel te neem, het hy R7 500 nodig, en dan moet ons nog natuurlik petrolkostes ook dek adat die petrolprys so die hoogte in geskiet het,” verduidelik Pockpas se pa.
Die Pockaps-egpaar het nog ’n lootjie waardeur hulle geld vir hul seun se uitgawes insamel.
“Die lootjie kos R50 per inskrywing.
“Die erste prys is ’n heel skaap en ’n bootrit vir twee by Viljoensdrift.
“Die tweede prys is ’n bootrit by Viljoensdrift vir twee en twee bottels wyn.
“Die derde prys is ’n ontbyt by Basil and Bloom vir twee mense en die vierde prys wyn en ’n vonkelsap-geskenkpak.”. Vir nog inligting oor die lootjie, bel Lulinda by 060 415 0087 of Klaus by 072 815 2387.





