Plaaslike slaghuise, restaurante, diereklinieke en haarkappers in Malmesbury moes oor die afgelope paar maande aansienlike uitgawes aangaan om kragopwekkers aan te skaf sodat hulle tydens beurtkrag kan handel dryf.

Wendy Langeveldt, assistentbestuurder van Swartland Vleis/Meat, sê wanneer beurtkrag begin, maak hul seker alle yskaste is by die prop afgeskakel en die kragopwekker is aan voordat hulle weer die yskaste aanskakel, om sodoende die risiko van skade weens die kragonderbreking te verminder.

“Ons maak seker ons gee die beste diens vir ons kliënte gedurende die beurtkrag.”

Langeveldt sê hulle het selfs ’n tweede kragopwekker gekoop, wat sterker is, maar dit het hulle ’n verdere ongeveer R11 000 uit die sak gejaag.

Deon Gouws, eienaar van Jo’s Sports Pub in die dorp, sê hulle hou altyd die beurtkragskedule dop, en op daardie manier stel dit hulle in staat om hul kragopwekker te alle tye vol brandstof te hou.

Volgens Gouws is hul brandstofverbruik sowat vier liter per twee ure.

“Dit is ’n duur storie, maar wat kan ons as eienaars doen anders as om net te aanvaar dat beurtkrag ’n werklikheid is. Ons kan nie bekostig om ons deure toe te maak en besigheid te verloor nie,” sê Gouws.

Gouws moedig ander sake-eienaars aan om omsetters met herlaaibare batterye asook kragopwekkers aan te skaf om volhoubare diens aan hul klante te help verseker.

“Die Covid-pandemie het ’n groot uitwerking op al ons ondernemings gehad, en in hierdie stadium terwyl Suid-Afrika nog aan die herstel is, moet ons net ons deure oophou,” sê Gouws.

Inke Kleinhans, die eienaar van en ’n stilis by Salon De Bron, vertel sy moes ook planne maak om te verseker sy kan haar salon se deure oophou

“Ons het herlaaibare toerusting behalwe vir ons haartange (hair straighteners) en haardroërs,” sê sy.

Kleinhans sê verder huur hulle ’n kragopwekker by een van die winkels langsaan as hul haardroërs en haartange wil gebruik.

Sy sê die salon is gewis stiller tydens beurtkrag, maar dit hang ook maar af watter tyd van die maand dit is.

Volgens Kleinhans is beurtkrag nie reg nie, maar “dit is die nuwe normaal” en sake-eienaars moet hul werksure aanpas om seker te maak hul klantediens is altyd 100%.

Elize de Wet, ontvangsdame van The Animal Hospital and Vetshop (TAH) in Darling, sê hulle het ’n kragopwekker ter waarde van R100 000 gekoop, wat dadelik inskop wanneer die krag afgeskakel word.

“Ons het ’n groot hoeveelheid medisyne in voorraad, wat te alle tye koel gehou moet word. Ons kan nie bekostig om nie ’n back-up te hê nie. Ons het dit ook nodig om ten volle in die teater te kan werk,” sê de Wet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article