Die Boland-rugby-unie se Grootuitdaagbeker-wedstryde word as een van die opwindendste rugbykompetisies in Boland Rugby beskou en lok ondersteuners van heinde en ver.
Met die meeste van die streekskompetisie se kampioene aangewys, verskuif alle aandag nou na die Top-12-kompetisie.
Op plaaslike bodem sal Darling, wat as die streekskampioen koning gekraai het, en die naaswenners Wesbank die Swartland in die Top-12 verteenwoordig.
Die ervare Neil Papier, wat Darling se rugbyspan die laaste vier seisoene brei, sê die wegwedstryd teen Moorreesburg het gewis die skaal in hul guns geswaai. Darling het ’n agterstand van 3-19 omgeskep in ’n wenformule van 27-26, wat hom die tweede posisie besorg het.
Darling kon eers in die laaste wedstryd die gesogte titel teen Villagers van Wittewater wen toe hy met 40-27 geseëvier en dit voor Freddie Mcquire se Wesbankspan se neus met twee ligapunte weggeraap het.
Darling en Wesbank kwalifiseer nou vir die opwindende uitspeelronde van die Top-12-kompetisie om die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker, wat op 7 Oktober afskop en met die eindstryd op 18 November op die Boland-stadion in Wellington eindig.
Sedert die Boland-rugby-unie in streke verdeel is, is dit seker een van die strafste en opwindendste rugbykompetisies in die land waar die twee topspanne van die ses topstreke om die toptitel van die Boland-rugby-unie meeding.
Die 2023-Boland-grootuitdaagbekerwedstryde het weer eens bewys rugbyspanne volhard tot die einde. Ondersteuners het week ná week na die Abbotsdale-, Gabriel Faroa-, Rosenhof-, Mariba Park-, Saron-, Porterville-, Wesbank-, Wittewater- en Riebeek-Wes- sportterreine gestroom om hul gunstelingspanne te ondersteun.
Abbotsdale het die eerste ronde afgesluit as die voorloper en was in ’n goeie posisie, maar het in die tweede ronde harde bene gekou en teruggesak na die derde plek.
Romeo Adams se opwindende Good Hopes van Riebeek-Wes het rugbyondersteuners verras met uitstekende rugby en die topspanne op Maribapark laat les opsê. Adams en sy troepe voel tevrede met ’n sesde plek.
Papier se Darling-span het weer eens gewys jy het ’n goeie vastevyf nodig om in wedstryde onder druk kalm te bly en jou kanse te benut wanneer dit saak maak.
Never Despair kan homself skop omdat hy nie altyd al sy kanse benut nie. ’n Vierde plek in die Swartland is nie waarop hy gehoop het nie, maar kan in die 2024-seisoen heelwat beter vaar.
Moorreesburg Samoa is een van die spanne wat hom op kritieke stadiums in die steek gelaat het. Die span kan met meer selfvertroue tot sy volle potensiaal uitstyg en sal gewis ’n bedreiging in 2024 wees om mee rekening te hou.
Porterville, wat in die beginstadium ’n bietjie gesukkel het, het in die tweede ronde tot sy reg gekom en uitstekend gevaar in die omstandighede deur die topspanne die skrik op die lyf te jaag.
Riebeeck United, wat die eerste keer in die Grootuitdaagkompetisie deelgeneem het, het aan die begin ’n bietjie gesukkel, maar merkwaardig verbeter namate die kompetisie gevorder het. Die span kan met meer ervaring in 2024 goed vaar.
Saron het ’n goeie tweede ronde beleef en nie geskroom om die groter spanne aan te vat nie. Met ’n bietjie tegniese aanpassings voor en agterlangs kan hy in 2024 ’n bedreiging in die Swartland wees.
Villagers Wittewater het nie ’n goeie seisoen in die 2023-Grootuitdaag beleef nie en gaan outomaties na die Swart-Weskus-streekuitdaag gerelegeer word.
Wesbank het die 2023-seisoen as kampioen goed afgeskop en vroeg waarskuwings aan die ander spanne gerig dat hy nie maklik van sy titel sal afstand doen nie, maar het konsentrasie verloor toe dit saakgemaak het, maar steeds gewys hy kan tot die laaste aanhou veg, en dit is kenmerke van ’n kampioen.
Sy insluiting in SA Rugby se topklubkampioenskap-kompetisie, die Rainbow Gold Cup, is ’n bewys van ’n uitstekende span.
Young Eagles van Dassenberg (kampioen) en Steenberg Cove (naaswenner) van die Swart-Weskus-streek se Grootuitdaagreeks vorder regstreeks na die Weskus en Swartland-Grootuitdaagkompetisie.





