Die Portugese was die eerste Europeërs wat Suid-Afrikaanse grond betree het, en hulle het talle smullekker geregte saamgebring – ’n ware mengelmoes tradisionele Portugese-, Afrika- en Oosterse geure.
Hul kookkuns behels gewis nie net, soos baie mense dalk dink, vis en tjips nie.
Hulle maak ’n menige lekker gereg van, ja, vis, maar ook hoender, rooivleis, bone en ander groente. Gaan kuier maar gerus by Dias Tavern in die Kaap.
Ons Portugese broeders se peri-peri-hoender is perfek vir my geliefde braai. Dit word voorgesit met slegs ’n slaaitjie en ’n vars Portugese rolletjie (as ek tyd het, maak ek die rolletjie self). Dit is net die regte maaltyd vir daardie luilekker braaidag.
Peri-peri-hoender
Dít het jy nodig: 1 groot hoender 2 eetlepels botter 2 fyngemaakte knoffelhuisies 3 brandrissies (of meer vir ’n bietjie meer skop) 1 eetlepel suurlemoensap 1 eetlepel olyfolie 1 teelepel paprika sout en peper na smaak
Maak só:
Sny die ruggraat van die hoender sommer met ’n kombuisskêr uit en druk die hoender plat.
Spoel die binnekant goed uit en die buitekant goed af.
Droog dit met kombuispapier af.
Sny met ’n skerp mes ’n paar repe deur die dikker dele van die vleis.
Maak ’n pasta van al die bestanddele hierbo en vryf dit goed oor die hele hoender.
Laat die hoender minstens twee uur marineer, maar verkieslik oornag.
Met die braaislag word die hoender sowat ’n uur stadig oor matige kole gebraai en kort-kort met die bedruipsel gesmeer.
Opdiensous: 2 eetlepels botter 1 eetlepel olyfolie 2 heel knoffelhuisies 3 fyngesnyde rissies sap van ’n halwe suurlemoen ’n handjie vol gekapte pietersielie
Maak só:
Braai die knoffelhuisies in die botter en olie.
Voeg ná drie minute die rissie, die suurlemoensap en die pietersielie by.
Verwyder die knoffelhuisies en skep die sous oor die gaar hoender.
Bedien met lekker warm Portugese rolletjies en die oorblywende bedruipsous.
Geniet dit!




