Die koring- en skaapstudiegroepe van Agri Malmesbury se jaarvergaderings het vandeesmaand plaasgevind waartydens uitdagings, maar ook hoogtepunte van die afgelope jaar, deur hul onderskeie voorsitters, John Dürr (skaapstudiegroep) en Hentie Smit (koringstudiegroep) gedeel is.
Die nuwe bestuurslede van elke studiegroep is ook gedurende die geleentheid verkies.
Prof. Beatrice Conradie, ’n professor in ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad, het lede en besoekers kom toespreek. Prof. Conradie het haar belangstelling in die meting van landbou-produktiwiteit kom deel en die vraag waarom produktiwiteit vir produsente in die landbousektor so belangrik is, gevra. Volgens haar moet produktiwiteit vir elke boer die wagwoord wees, want die maklike tye is verby, het sy gesê.
Sy het klem daarop gelê dat voedselsekerheid iets is waaroor produsente hulle móét bekommer.
Prof. Conradie het besoekers meer vertel oor ’n doeltreffende maatstaf wat in boerdery gebruik kan word, naamlik totalefaktorproduktiwiteit (TFP) wat meet hoe doeltreffend die produsent sy totale insette in uitsette kan omskakel. “Dit gaan oor fisieke eenhede, byvoorbeeld hoeveel gram kunsmis per kilogram koring gebruik word. Dit maak nie saak wat jy doen nie; die vraag is of jy goed is in wat jy doen. TFP gaan jou nie net help om te bepaal waar jy staan teenoor die beste boer in jou omgewing nie, maar dit help jou ook om te weet by wie jy moet gaan kers opsteek. Dit wys jou of jy besig is om die regte ding op jou plaas ten opsigte van produksie te doen.”
Volgens haar is voedselproduksie op nasionale vlak besig om te stagneer. “ ’n Deel van die probleem is dat ons data onakkuraat is en die wortel van daardie kwaad is dat die landbougemeenskap nie die regering heeltemal daarmee vertrou nie. Daarom gee produsente nie die data nie. Dit beteken ook dat die bedryf nie data het nie.”
Sy was gedurende die geleentheid baie bly om te hoor Malmesbury het steeds studiegroepe, en veral dat die koringstudiegroep weer begin het om data te versamel. Sy beveel egter aan dat data nie slegs van net ’n paar mense van binne die studiegroepe getrek moet word nie, maar van almal in die omgewing.
Conradie het die goeie nuus gedeel dat die navorsingsinfrastruktuur en kundigheid in die Wes-Kaap nog bestaan. Wat wel vermis word, is die voorligtingsketting wat so gou moontlik weer ingestel moet word. Volgens haar is produsente-organisasies en studiegroepe vandag baie belangrik – juis vir daardie leemte.
Die skaapstudiegroep se nuwe lede is: Ewan Louw, Eben Schellink, Jopie de Kock, Juan Louw, Erica Hanekom, Pieter Hanekom, Johnny Forbes, Oubasie Lesch, Peter Steyn, Stephan Hamman, Hentie Smit, Du Toit Hamman, Wilhelm Relihan, Nollie Stofberg, Christo Smit en John Dürr, wat as voorsitter aanbly.
Lede verkies tot die koringstudiegroep is Derick Becker, Truter de Kock, Gert Claassen, Hennie Eksteen, Eben Schellink, Johan Smuts, Hentie Smit, Dolfie Walters, Dirk Lesch, Michiel Smuts jnr, Jopie de Kock, Richard Hewett, Jan Bester, Paul Truter, Charl Hamman, Fanie Walters, Gielie Bester, Janneman Louw en Peter Steyn.




