Levina Geduld het die Carolus-familie van Robertson onder haar vlerk geneem en ’n geldinsamelingsprojek van stapel gestuur ná die onlangse skoknuus dat breinkanker by klein Kaira Carolus (4) gediagnoseer is.
Levina beplan ’n geldinsamelingsprojek vir 27 November om 15:00 by Robertson se AGS-kerk in Coetzeestraat, Robertson, om geld in te samel vir Kaira se kankerbehandeling.
Dié barmhartige Samaritaan, ook ’n Robertsonner, het Kaira se ma genader om met geldinsameling te help.
“Ek werk saam met ’n familielid van Kaira, en sy het altyd so met my gedeel, en ek het maar altyd net bemoedig,” vertel Levina.
“Later het ek self met Kaira se ma begin praat, en die storie het my hart geroer omdat ek sélf ’n ma is,” sê Levina.
Daarná het Levina die bal aan die rol gesit en by die plaaslike AGS-kerk gehoor of sy saam met ander gospel-sangers ’n optrede vir Kaira kan hou.
Die konsert word al vir twee maande beplan en sal ’n Christelike sangkonsert met altesaam nege plaaslike kunstenaars behels.
“Daar gaan ’n orkes wees met ’n groepie sangers wat die verhoog saam met my gaan deel en lof aan die Here gee,” beloof Levina.
“Ons wil graag om genesing roep vir Kaira, en geld insamel vir haar en haar ouers,” sê Levina.
Toegang vir die konsert is gratis, maar skenkings word aangemoedig, wat in kontant geskenk kan word, of per banktransaksie gedoen kan word by Capitec met 1357142461 as die rekeningnommer.
“Vir my gaan dit nie oor hoeveel [geld] ingesamel word nie, maar al wat saak maak, is dat van die Here gevra word vir genesing vir Kaira,” verduidelik Levina.
Verskeie nageregte sal by die konsert verkoop word, wat ’n bykomende hupstoot buiten die skenkings sal verskaf.





