Sowat 90 katte sal op 16 September in die Malmesbury-stadsaal tydens Malmesbury se eerste katskou nog te sien wees.
Dié skou word deur Leonard Ferreira van Chats Du Cap, ’n organisasie sonder winsbejag, in belang van katte gereël.
“Ons is báie opgewonde omdat reeds 90 katte ingeskryf is – Burmese en Persiese katte, Devon Rex, die haarlose Sphynx en die oulike kortbeen- Bambino Elf, Main Coons (die heel grootste katsoort), gewone huiskatte en vele meer.”
Leonard en sy vrou reël reeds sewe jaar lank katskoue in dorpe soos Swellendam, Robertson en voorheen ook Darling.
“Dit is die eerste keer dat ons aantal deelnemende katte meer as 60 inskrywings lok – dis 30 katte meer as selfs die Swellendamse skoue. Daarom werk ons nou hard om te verseker ons administrasie, logistiek, deelnemende kosstalletjies en gelukstrekkings sal vlot verloop.
“Ons mikpunt is dat die skou lekker moet wees vir die publiek, vir deelnemers (katskouers) en almal teenwoordig.”
Leonard is verheug oor die manier waarop verskeie instansies die projek ondersteun. “Veeartse, Swartland Winery en verskeie Animal Rescue’s is reeds op verskillende maniere betrokke. Ons verwelkom nog mense of instansies wat wil deelneem aan kos- of koffiestalletjies of geskenkies vir gelukstrekkings wil aanbied.
“Ons doel is om katskoue platteland toe te bring. Teen R20 toegangsgeld beloof 90 katlyfies om besoekers se gees te verkwik.”
Die katskou word van 9:00 tot 15:00 gehou. Loer ook op Chats Du Cap se Facebookblad vir meer foto’s en inligting.




