Die plaaslike motor-entoesiasgroep Tuck it Thursday het verlede week komberse aan ’n ouetehuis geskenk en beplan om dit vir die res van die winter te doen.
“Ek was so drie weke gelede by die Lingelihle-ouetehuis in Zolani vir ’n werkafspraak en het toe besluit om iets vir hulle te doen. Omdat die goed wat ’n mens aan hulle kan gee, so beperk is, het ek op komberse besluit,” verduidelik Daniëll Adendorff, die groep se stigter.
Hulle het altesaam 25 komberse oorhandig en hoop om nog vele aan diegene wat dit dalk nodig het, te oorhandig.
“Ons beoog om nog tot einde September komberse in te samel en uit te deel omdat dit tot daai tyd van die jaar nog koel raak in die aand. Enigiemand wat komberse wil skenk, kan my gerus kontak.”
Die groep het ook met ’n ander motorentoesiasgroep hande geneem, wat hulle gevra het om ’n gesamentlike projek aan te pak.
“Die VW-eienaarsklub van die Kaap het ons gevra om saam met hulle sanitêre doekies in te samel, wat ons op 7 Augustus aan ’n plaaslike hoërskool gaan oorhandig.”
Vir die sanitêredoekieprojek, verduidelik Adendorf, sal hulle verkies dat mense ’n geldelike skenking moet doen.
“Ons wil mense graag vra om ’n skenking van R50 te doen. Ons wil die doekies dan in grootmaat gaan koop – alles dieselfde produk.”
Ná die oorhandiging van die doekies sal die motorentoesiaste op ’n spesiale skou met hul motors spog.
Enigeen wie aan hierdie projekte wil skenk, kan Adendorff deur WhatsApp by 060 503 5247 kontak.




