Karen Els, die onthoukok van Malmesbury, is saam met haar spanmaat en kinkelkok, Gert Joubert, as die wenners van Kokkedoor Vuur en Vlam aangewys.
Sy het haar deelname aan die werklikheidsreeks as ’n groot ervaring, wat haar lewe verander het, beskryf.
Dit was vir haar lekker om die nuus uiteindelik ná ’n spanningsvolle laaste episode, wat die afgelope Donderdagaand uitgesaai is, met familie en vriende te deel. Dit was vir haar en haar kinders moeilik om haar titel as wenner geheim te hou, bieg sy. “Hulle was so trots, maar kon niks verklap nie.” Haar seun Hanro wou net sy juffrou vertel, maar het geweet wat op die spel is as hy die aap uit die mou sou laat.
Toe sy haar en haar spanmaat se name hoor, was die gevoel een van “absolute ongeloof”. Sy moes haarself eers afvra of dit waar kan wees. “Julle verstaan nie hoe baie ek en Gert die oorwinning nodig gehad het nie. Dit was my wow-oomblik,” vertel sy toe die wenners sowat tweeuur die oggend op Struisbaai, waar die projek afgespeel het, aangekondig is.
Karen was met die uitsaai van die laaste episode saam met die res van die deelnemers en die hele produksiespan by Homebrew se ateljee in Milnerton, waar die oomblik herleef is. “Dit was ongelooflik kosbaar en ek het die groot oomblik sommer van voor af ervaar. Dit was hoendervleis-mooi.”
Sy vertel verder hoe baie haar kinders hul ma gemis het, maar sê haar deelname was tog die moeite werd. “Dit is ’n nuwe begin vir ons almal.”
Sy het in die afgelope paar dae se string radio- en televisieonderhoude weer beklemtoon dat Kokkedoor nooit oor braai gegaan het nie, maar oor om kos op die vuur te maak.
Karen is baie opgewonde oor opwindende projekte wat nou voorlê. “Ek het die fenomenale Hetta Saunderson (M4 Events & dVine Productions) van Malmesbury, wat my bestuurder is. Ek is ook bespreek vir talle binnenshuise spysenierings-geleenthede en al die feeste en vroueoggende wat gebeur,” verklap die onthoubraaier.
Die grootste projek wat sy wil aanpak, is die kollig wat sy “op alles plaaslik Swartland en die Weskus” wil plaas.
Volgens Wilmer Müller, die publisiteitsbestuurder van Kokkedoor Vuur en Vlam, het Karen die span agter die skerms van dag een af beïndruk.
“Die Kokkedoor-reekse se wenners het oor die jare nie net huishoudelike name geword nie, maar ook deel van die Afrikaanse kosgeskiedenis, en dit is vir ons baie opwindend dat dit nou vir Karen en Gert beskore is. Karen se veerkragtigheid het ons veral van die dag wat ons haar by die oudisie ontmoet het, beïndruk. Boonop het sy met haar deelname aan die reeks op ’n nuwe lewensreis gegaan, wat ook vir haar lewensveranderend was, terwyl haar ongelooflike toewyding om elke enkele uitdaging met die nodige erns en toegewydheid aan te pak, van haar ’n gedugte deelnemer gemaak het. Met hul oorwinning weet ons die Kokkedoor-vaandel is in goeie hande.”
Karen bedank al haar ondersteuners en sluit af: “Laat die vure brand.”





