Navorsing in praktyk het lank terug bewys een van die grootste bydraers tot die sukses in kanolaproduksie op plaasvlak, is die gebruik van nuwe- of basissaad, verduidelik Andries Theron van die Proteïen-navorsingstigting (PNS).
“Dit gee ons produsente toegang tot die nuutste variëteite asook tot die nuutste tegnologie en genetika.”
Hy verduidelik verder en vertel van proewe wat die afgelope seisoen deur Piet Lombard van die Wes-Kaapse departement van landbou gedoen is, bevestig het dat opbrengsverliese van 12% tot 19% gely kan word met die terughouding van eie saad.”
Siektedruk raak volgens Lombard ook onbestuurbaar binne so ’n praktyk.
“Die PNS het vanuit die staanspoor die aanplant van terughousaad ontmoedig en ons boere aangemoedig om nuwe saad te gebruik om sodoende die beste opbrengste te verseker.”
Volgens hom gaan die Swartland vandeesweek begin plant te midde van die situasie dat die meeste produsente nie die saad op hul plase het nie.
“Die frustrasies is dieselfde. Baie boere se saadbestellings is met 50%, 80% of meer op gewilde kultivars gesny.
“Die realiteit is – hier is te min saad beskikbaar, wat gaan lei tot die aanplant van eie saad of terughousaad. Daar is nie regtig ander alternatiewe nie,” sê hy moedeloos.
Die gebruik van terughousaad is nie aan te beveel nie, maar dit is al alternatief.
Die gevaar hieraan verbonde is dat dit ’n praktyk kan word wat in die toekoms herhaal word met baie negatiewe gevolge vir die kanolabedryf in die Wes-Kaap.
“Ons glo en vertrou die lesse geleer uit die huidige situasie asook in diepte gesprekke wat tans aangaan, sal die probleem homself nooit weer herhaal nie,” sê hy hoopvol.
PNS moedig produsente, wat genoop word om terughousaad te plant, aan om die moeite te doen om hul saad baie deeglik te skryn om alle onsuiwerhede te verwyder en tweedens seker te maak dat die regte aanbevole saadbehandelings met die regte middels gedoen word.
“Plaas ’n bietjie meer saad in die grond om vir dowwe sade voorsiening te maak. Maak die beste van ’n baie onaangename situasie,” sê hy.
Theron doen ’n beroep op medeboere om PNS so ver as moontlik te kontak en seker te maak wat regtig gebeur en wat gebeur het. “Die huidige Kanolasaad-situasie is ’n gemors. Dit het gebeur. Kom ons probeer dit na die beste van ons vermoë bestuur. Ek kan u die versekering gee geen steen sal onaangeroer gelaat word om te verseker hierdie situasie herhaal homself nie.”
Lombard werp lig op die situasie en sê die goeie nuus is dat die verwagte kanola-opbrengs danksy genetika die afgelope 20 jaar verdubbel het. “Die toekoms vir die gewas is dus rooskleurig. Die prys van kanola die afgelope twee seisoene het ook ’n groot rol in die winsgewendheid van die gewas vervul. Die koste van die saad om in die 2023-seisoen te plant is egter baie hoog teenoor vorige seisoene.”
Die verwagte aanplanting in die Wes-Kaap is 130 000 ha.





