Groot kommer heers onder produsente oor vanjaar se kanola- en koringoes weens die swak ontkieming van kanola en die koring wat nie wil stoel nie. Foto: Neil Geldenhuys


“Die kans dat ons verlede jaar se oes gaan afhaal, is nul.” Só sê André Kirsten van Graan SA. Hy stem saam met plaaslike produsente dat die kanola sowat vyf weke laat is.

Volgens plaaslike produsente het die kanolalande gewoonlik dié tyd van die jaar reeds in geel gepronk.

Kirsten sê die kanola in die Swartland is in die algemeen swakker as in ander streke. Vanjaar was die ontkieming daarvan baie swak. “Produsente is erg bekommerd,” voeg hy by.

Wat koring betref, sukkel boere weer met stand. “Die probleem is dat koring nie wil stoel nie. Dit gaan dadelik na pyp toe,” verduidelik hy en sê die koring in dié streek is dus ook laat. Die rede daarvoor is baie seisoengebonde. “Dit het nie gereën wanneer dit moes nie. Dit het egter baie gedurende Junie gereën, maar dit het ook laat gereën.”

Hy sê egter “alles is laat” – van graangewasse tot weidings en wisselbougewasse soos lupiene, wat nog baie klein is.

September is gewoonlik die “afrekeningsmaand”, sê hy. Vanjaar is ’n nat September egter van kritieke belang vir ’n gemiddelde oes.

Baie produsente het ook besluit om nie kopbemesting (die toediening van bemesting op gewasse) vir hul kanola wat swak ontkiem het, te gee nie juis omdat kunsmis nou so duur is, waar ander wel besluit het om voort te gaan.

Kirsten sê vanjaar se oestyd hang alles van die seisoen af.

Volgens Langgewens, die Wes-Kaapse departement van landbou se proefplaas buite Moorreesburg, is kanola ’n koelweergewas en baie sensitief vir klimaatsomstandighede.

Samie Laubser, bestuurder by die Langgewens-proefplaas, sê gewasse is minstens ’n maand agter as gevolg van die reën wat laat geval het.

Volgens hul rekords het maar net 5,5 mm reën in April geval en altesaam 20 mm in Mei.

“Die meeste reën het einde Mei geval, maar toe was die grond reeds droog en boere het klaar geplant. Daardie reën is gevolg deur ’n droë tyd, met baie reën in Junie, wat weer deur warm weer aan die einde van die maand gevolg is.”

Hy is dit eens dat September die bepalende maand is. Sou dit ’n nat Augustus of September wees, gevolg deur ’n koel Oktober, kan ’n gemiddelde oes wel verwag word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die hoeveelheid reën op Langgewens die gemiddelde langtermyn-reënvalsyfer oor die afgelope drie jaar vir Junie en Julie oorskry. Junie het die laaste vyf jaar meer reën ontvang as wat die langtermyngemiddelde reënvalsyfer op Langgewens is. Gedurende die maande Januarie, Februarie, April en Mei vanjaar het minder as die gemiddelde langtermynreënval op die Langgewens-stasie geval. Die langtermyngemiddelde reënvalsyfer tussen 1994 en 2021 staan op 379,9 mm per jaar. Verlede jaar het ’n gemiddelde 469,4 mm reën geval, terwyl altesaam 390,4 mm reën in 2020 geval het, wat dus bo die gemiddelde reënvalsyfer op Langgewens is.

Die jaarlikse gemiddelde reënvalsyfer vir Mei op Langgewens is 49,6 mm, terwyl vanjaar slegs 20 mm reën tot nou geval het.

Die langtermynweervoorspelling dui daarop dat bogemiddelde reën vir Augustus en Oktober vanjaar verwag word, terwyl September ’n ondergemiddelde reënvalsyfer toon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article