’n Inwoner van Robertson herstel tans nadat hy ’n derde hartaanval in ’n kwessie van ses jaar oorleef het.
Paul Steyn (62) het op 26 September vanjaar by sy huis inmekaargesak terwyl hy die tuin natgemaak het. Sy vrou, Gwen, het dadelik met hom hospitaal toe gehaas waar dokters vasgestel het hy het ’n hartaanval gehad.
Dit was die derde hartaanval wat Steyn in ’n kwessie van ses jaar gehad het.
Steyn se eerste hartaanval was in Februarie 2016 toe hy en sy gesin in die Krugerwildtuin in Mpumalanga vakansie gehou het.
“Ek het die nag baie warm gekry en opgestaan om te gaan water drink. Ek het benoud gevoel en dit aan die hitte toegeskryf. Ure later toe moes my gesin vir my bid toe ek in die waakeenheid van ’n hospitaal in Nelspruit wakker word,” vertel hy aan Gazette.
Steyn het voorheen ’n bekende onderdele-onderneming in Worcester bestuur en was drie weke later eers weer terug in die Boland. Dokters het hom meegedeel dat hy sy gesondheid sal moet verbeter en sy stres aktief sal moet beheer.
“Ons het besluit om na ’n plaas net buite Robertson te trek en ek het my eie onderneming aanlyn begin bestuur. Ek het gedink die stres sal minder wees, maar in Desember 2018 het ek weer ’n hartaanval gehad.”
Steyn sê hy het griep gehad en daarna met erge borspyn gesit. Hy is dokter toe en dié het hom vir verdere toetse gestuur, waarna spesialiste bevind het hy het eintlik weer ’n hartaanval gehad.
“Dit was blykbaar ’n ligte hartaanval, maar ek moes steeds behandeling kry.
“Ek is in die hospitaal opgeneem en moes ’n hartomlyning ondergaan.
“Ek het in daardie stadium gereeld geoefen en my beste probeer om my stres te verminder,” onthou hy. “Dit is nie asof ek ongesonde gewoontes gehad het nie –ek het sal in 2014 al ophou rook.”
Sy dokters het hom ingelig hy het vernouing in sy are en hy moes daarna ’n spesialis in die Kaap gaan sien. Dié spesialis het medikasie toegedien wat hom met die toestand gehelp het en hy het weke daarna weer begin draf.
“Alles het goed gegaan tot Maart vanjaar, toe ek siek geword het. Ek het gedink ek het Covid-19 en het aanhoudend gehoes.
“Dokters het griep by my gediagnoseer en ek is behandel. Ek het tot verlede week nog kort-kort gehoes en geen medikasie wou werk nie.
“Intussen het ek in September weer n pyn op my bors begin voel,” verduidelik Steyn.
Hy is dadelik terug na sy geneesheer en is meegedeel hy moet gemonitor word. Steyn het die medici ingelig hy moet die einde van September vir sy dogter se troue in Gauteng wees, en is toegelaat om op 19 September saam met sy vrou Johannesburg toe te vlieg.
“Die troue was Saterdag 24 September en ons het die Maandag teruggevlieg. Ek was skaars twee dae by die huis toe sak ek inmekaar. My asem was kort en my bors het vreeslik gepyn. Ek het besef ek kry weer ’n hartaanval.”
Sy dokter meen egter hy sal nou weer by die spesialis moet uitkom en ’n operasie sal dalk die enigste uitweg wees.
“Dat ek nog lewe, is ’n wonderwerk. Ek voel in die algemeen goed, maar ek is te bang om te beweeg of om my bloeddruk op te jaag. Ek hoop die spesialis sal antwoorde hê. My afspraak is vroeg in November. Nou fokus ek op my gesondheid en herstel. Ek het nou al twee driedubbele hartomleidingsoperasie ondergaan. Dit is genoeg vir ’n leeftyd.”





