Dr. Alice Brink en prof. Andreas Roodt

Credit: SYSTEM

’n Nuwe soort “soek-en-vernietig”- tegnologiese ontwikkeling gee aan dokters die vermoë om kanker terselfdertyd te identifiseer en te behandel.

Boonop is hierdie rewolusionêre nuwe uitvinding vir kankerdiagnose en -behandeling in Suid-Afrika ontwikkel – by die Universiteit van die Vrystaat (UV) – in samewerking met die Universiteit van Zürich in Switserland.

Twee spanne – onderskeidelik van die twee universiteite – het die afgelope 15 jaar navorsing gedoen en nou ’n patent ingedien met die titel Multinuclear complexes and their preparation.

Hulle hoop hul uitvindsel sal in die nabye toekoms help om kankergewasse te identifiseer (diagnoseer) en te behandel.

’n Patent vir hierdie nuwe mediese prosedure is in Suid-Afrika en ook deur die Europese patentekantoor toegestaan. Die patent is hangende in die VSA, Japan, Hong Kong en Indië.

Die uitvinders van die UV is prof. Andreas Roodt, dr. Alice Brink, dr. Pennie Mokolokolo en dr. Vincent Dumisani Kama.

Roodt en Brink sê hierdie is ’n baie belangrike uitvindsel.

“Dit is skaars in die mediese beroep om in reële tyd te diagnoseer, te behandel en na te spoor. Baie behandelingsplanne volg ’n uitgebreide proses. Eers word die oorsaak van die siekte gediagnoseer, dan word behandeling beplan en toegedien. Die sukses van die behandeling word op ’n latere datum geëvalueer. Dokters sal deur dit gelyktydig te diagnoseer en te behandel, in staat wees om te identifiseer of die kanker onmiddellik en op die regte plek die vereiste terapeutiese middel ontvang.”

Volgens die navorsers word tussen 30% en 50% van kankers deur leefstyl veroorsaak, en kan dus voorkom word indien dit betyds by pasiënte gediagnoseer en hulle behandel word.

Die UV hoop nou om in vennootskap met ’n farmaseutiese maatskappy in kerngeneeskunde te tree sodat die nuwe tegnologie as medikasie vir pasiënte beskikbaar gestel kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article