“Kunstenaars kyk anders na die lewe as ander mense,” het die skrywer Leonita Coutts van Malmesbury verlede week gesê tydens die Kuier voor Kersfees-vieringe ter ere van Kaleidoskoop, haar aanlyn tydskrif wat sy vroeg vanjaar ontwikkel het.
Leonita beskryf Kaleidoskoop as ’n droom wat waar geword het; ’n saadjie in haar gedagtes wat uiteindelik gestalte gekry het. “Ek moes eers leer om baie vrese te bowe te kom. Kaleidoskoop is nou –ná agt maande–’n volwaardige platform vir kunstenaars; ’n maandelikse produk wat gerealiseer het danksy die ekstra myl wat my kollega Lynette de Coning, my man en goeie vriende saam met my stap,” het sy gesê.
Ander kunstenaars wat verdere kleur aan die verrigtinge by Wellington se Bordienghuis gegee het, was die sangpaar Riku en Jackie Lätti, die digters Hendry Kortje (broer van die Idols-wenner Karin Kortje) en Helma Potgieter asook die skrywer Daniël Lotter, wat vertel het van sy nuwe boek.
Hierdie boek, wat vroeg volgende jaar sal verskyn, se voorlopige titel is Blou Bloed en fokus op familielede van Europese koningshuise wat Suid-Afrikaanse bande het. Sommige van daardie familielede praat selfs vloeiende Afrikaans!
Leonita, wat die afgelope jare haar op digkuns in Afrikaans en Engels toegelê het, verruim deesdae haar grense as redakteur van Kaleidoskoop Tydskrif Digi Taal, wat aanlyn te lees is.





