’n Bekende baken in Yzerfontein sal aan die einde van dié maand sy oorspronklike eienaars groet.
René en Mary Ann Bosch, die eienaars van Kaijaiki Country Inn, sal die deure van dié gewilde gastehuis en restaurant op die kusdorpie op 31 Augustus ná 25 jaar finaal agter hulle toetrek.
Die gastehuis is aan nuwe eienaars verkoop, wat voorlopig die naam sal behou.
Die egpaar meen Kaijaiki was nie net ’n gastehuis en restaurant nie, maar ’n leerskool soos hulle dit self oor die jare saam opgebou het.
Mary Ann, oorspronklik van die Kaap, het in haar jeug gereeld Yzerfontein besoek en ’n liefde vir die dorpie ontwikkel.
Haar en René se paaie het egter gekruis terwyl sy as onderwyseres in Witrivier, Mpumalanga, gewerk en gewoon het. René het in daardie stadium by ’n plaaslike en destyds welbekende koffiewinkel in Nelspruit as die sjef gewerk.
“Dit was daar waar ek en Mary Ann ontmoet het en ek uitgevind het sy is ’n baie kreatiewe mens, en nie lank daarna nie het ons Yzerfontein toe verhuis,” vertel hy.
Volgens Mary Ann het sy altyd ’n kreatiewe ingesteldheid gehad, en omdat René ’n gekwalifiseerde sjef was, het hulle besluit dit sal ’n goeie idee wees om ’n gastehuis en restaurant in Yzerfontein te begin.
Sy verduidelik hoe die naam van die gastehuis-restaurant tot hulle gekom het.
“Die stam-woord Kaija word uit Xhosa en Zulu geneem, en beteken ‘nederige huisie’; ek het dit toe verklein en foneties geskryf,” sê Mary Ann.
Gedurende die groei van Kaijaiki het hulle baie uitdagings gehad, maar René het altyd positief gebly danksy die gesegde “samestaan bly sterk”.
“Wanneer twee of meer mense saam staan, kan hul alles in die lewe bereik.”
Vir Mary Ann en René was dit belangrik om ’n tuiste te skep waar gesinne kon veilig voel en vir die vakansie ontspan.
Daarby was elke kliënt wat Kaijaiki besoek het, baie spesiaal.
“Ons almal is uniek en ons almal bestaan uit verskillende komponente. Vir my is hierdie komponente soos speserye – elkeen het sy of haar eie, unieke geur gebring, wat die dis bymekaar gebring het om Kaijaiki te vorm,” meen sy.
“Om metafories te praat – as ek oor die 25 jaar terugkyk na Kaijaiki, vanaf die pannekoeke [wat tot vandag ’n gunsteling is] tot die verblyf, het ons geleer hoe om met kliënte te werk en hoe dit vir die meeste mense as ’n huis beskou is.
René en Mary Ann kyk na die toekoms as ’n geleentheid vir avontuur met baie uitdagings, maar gevul met liefde.
“Ons gaan definitief meer reis en plaaslike gemeenskappe besoek om van ander kultuurgroepe te leer,” laat René hoor. Yzerfontein sal steeds hul basis bly.
Mary Ann, wat ook ’n talent vir fotografie het, wil haar graag weer daarop toespits want, sê sy, om foto’s te neem, skep geluk in haar lewe.
“Ek sal weer terugval op fotografie, want dit is waarvan ek hou; dit is my passie.”


