Joel Rix pronk derde op die Suid-Afrikaanse ranglys vir o.17-muurbalspelers. Foto: Charlotte Lesch


Joel Rix (16), ’n leerder aan die Hoërskool Swartland, is ná ’n onlangse nasionale muurbal-toernooi as derde op die Suid-Afrikaanse ranglys vir o.17-spelers geplaas.

Rix, wat aan die begin van die jaar saam met sy gesin van Bethlehem na die Swartland verhuis het, het hom sommer vinnig by die Malmesbury-muurbalklub aangesluit.

Hy het reeds in gr. 2 saam met sy pa, wat in daardie stadium die nommer-een-speler by die klub in Bethlehem was, muurbal begin speel.

Sy vernuf as speler op die muurbalbaan het hom as 16-jarige ’n plek in die nasionale span verseker toe hy as gebore Vrystater aan die Bloemfonteinse Ope-muurbalkampioenskap deelgeneem en ondanks ’n besering tweede gekom het.

Hy het kort daarna aan die SA Skole-toernooi deelgeneem, waartydens hy al sy wedstryde teen spelers van al die provinsies gewen het. Die mees onlangse toernooi, beter bekend as die Growthpoint SA Nationals of Squash, het tussen 15 en 18 Augustus by die V&A Waterfront plaasgevind, wat hom ’n plek op die nasionale ranglys verseker het. Nou is Rix op pad na Maleisië en Singapoer om SA op internasionale vlak te gaan verteenwoordig. Hy en die res van sy o.17-spanmaats, wat uit vyf 16-jariges bestaan, sal daar teen spelers van reg oor die wêreld meeding.

Rix bieg en sê hy geniet dit veral om te wen en voeg by dat hy ’n baie mededingende speler is. Hy en sy span vertrek einde November na die Ooste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article