Jean-Mare Frederiks, Faith Faro en Devenique Cleo was onder die Weskus-fietsryers.

Credit: SYSTEM

Die Weskus-fietsryvereniging het onlangs aan die jaarlikse jeugfees in Oudtshoorn deelgeneem, en vanjaar het veral die Weskus se groentjies geskitter.

Verskeie plaaslike jong fietsryers van Saldanha, Hopefield, Moorreesburg, Darling, Piketberg en Riebeeck-Wes het die Weskus gaan verteenwoordig.

Die Weskus-fietsryvereniging het hierdie jongmense ten bate van die bevordering van fietsry in die streek na die fees vergesel.

Volgens Jan Faroe, voorsitter van die vereniging, is die Weskus-streek nie sonder sy uitdagings nie, maar dit is wonderlik om veral die groentjies in aksie te sien. “Die streek is so wyd en dikwels is dit slegs by sulke geleenthede wat die ryers saam ry. Vervoer is ’n groot uitgawe en vir almal om saam te oefen, is nie altyd moontlik nie.”

Faroe sê egter die fietsryers het geensins teruggestaan vir die ander streke nie en aan die pad-resies, span-tydtoets, MTB-tydtoets en MTB-ovaalbaanrenne deelgeneem.

“Vier fietsryers van die groep was voorheen by die fees, maar vir die res – 19 van hulle – was die hele ervaring ’n eerste. Almal is sommer weer gereed om aan volgende jaar se fees deel te neem. Meer dissipline is gewis aan die orde van die dag wanneer dit by oefen kom.

“Dit was goed vir hulle om die struktuur van die fees sowel as die vlak van fietsry in lewende lywe te sien,” meen hy.

Die groentjies het egter nie met leë hande huis toe gekeer nie. Jean-Mare Frederiks (o.13) het twee silwermedaljes verower.

Faroe sê Jean-Mare se prestasie is veral verblydend omdat so min meisies lid van die vereniging is. “Ons wil baie meer meisies en vroue betrokke kry. Die skoner geslag het geen rede om nie deel van die sport te wees nie en fietsry bied so baie geleenthede vir alle fietsryers.

“Benewens fietsry self bied die sport ook ’n sosiale aspek, en met die toer na verskeie kompetisies is dit ook ’n manier vir Weskus-kinders om meer van die provinsie en die land te sien,” vertel Faroe.

Faroe sê fietsry gaan gebuk onder veral ’n tekort aan tydhouers, baanbeamptes en ander amptenare om by fietsrenne te help. Belangstellendes kan Faroe by 078 854 9867 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article